Met die herfsblare wat val is dit al te duidelik dat winter om die draai is. Die wêreld lyk te pragtig in sy fraai oranje en rooi tabberd. Natuurlik is dit groot pret vir die jongspan om die blare rond te gooi en te hoor hoe dit kraak as hulle daaroor loop. Hier in die kaap beteken dit egter dat baie dae nie net koud is nie, maar nat ook. Dit is die tipe dae wat mamma’s eerder warm binne die huis wil deur bring. My 2 asjasse het egter heel ander planne in gedagte. Koue, wind en reën hou hulle lankal nie meer binne nie. Daar is immers niks lekkerder as om in die reën rond te hardloop of in die modder te speel nie. ‘n Vuil kind is immers ‘n gelukkige kind. Natuurlik beteken dit ‘n berg wasgoed, maar wie kan ‘n glimlag keer as hulle modder besmeerd voor jou staan. Waar is die dae wat ons ook nog so kommervry rond kon hardloop.
Deesdae probeer ek die tye vir mors beperk tot net voor bad tyd. Op die manier is daar minder stelle vuil klere en net een ordentlik skrop sessie op ‘n dag. Mamma se blink planne stem egter bitter min ooreen met die van ‘n 4- en 2jarige. Hulle begrip vir watter klere geskik is vir modder speel is ook selde na wense. Nuwe klere behoort immers ordentlik ingelyf te word, of hoe? En hoe witter hoe beter geskik is dit vir mors.
So tussen die modder speel deur kom vertel my oudste die ander dag vir my dat hulle ‘n gogga uit die modder gehaal het. Dit sal my glad nie verbaas as hulle ook die oorsaak vir die arme gogga se amper verdrinking was nie. “Mamma, ons het een ge”safe”. Ons was heroes.” So ewe. Hulle sorg maar altyd vir ‘n glimlag op my gesig. Pappa wens net hartstogtelik dat die Engelse woorde nie so tussen die Afrikaans wil insluip nie.