Een van die groot uitdagings van ouerskap is seker om vir die kleinspan ordentlike manier te leer. Manlief het gedink om dit op ‘n prettige manier te doen. Hy het die kinders begin leer om “Askies mense” te sê deur met hulle te speel dat iemand ‘n wind breek of los. Ongelukkig het dit nou in ‘n baie snaakse speletjie ontaard waarin hulle maak of hulle winde los /breek en dan kyk wie kan eerste sê “Dit was jy”. Dan moet daardie persoon “skies mense” antwoord.
Gister los ons jongste pop ‘n wind en sê ewe mooi “windjie los”. Waarop ek toe vra: “Wat sê mens?” (bedoelende hiermee “Askies mense”). Haar antwoord was egter: “was jy!”. Duidelik werp die speletjie nie vrugte af nie, maar komende van ‘n amper 2 jarige het ek gedink dis woes snaaks. Of ek nog gaan dink dit is snaaks wanneer dit die dag in die openbaar gaan gebeur is ‘n hele ander storie.
Menigte dae wonder ek, en manlief dikwels ook, egter of die kinders se ore afgeval het of bloot net af geskakel is. Hy vra al te dikwels vir hulle: “Waar is julle ore?”. Op een van die geleenthede, waar kleinsus die skuldige party was, antwoord ons oudste heel gou: “Haar ore is onder haar hare. Jy kan dit net nie sien nie. Haar hare is te lank.” Nou hoe bly jy streng na die redenasie?
Op ‘n dag het dit besonder rof gegaan. Ek was al skoon moedeloos met die twee woelwaters wat net nie wou luister nie. Ons 4jarige seuntjie probeer my toe ewe liefies troos. “Moenie hartseer of kwaad wees nie, mamma. Ons sal weer vir jou luister op ‘n ander dag”. Dis nou genoeg om enige mamma se moed vir die res van die dag te breek! Jy hoop net van harte dat die ander dag sommer al more sal wees.