12 August 2011
Share

Ouma het vir 3 weke kom kuier. En was dit nou ‘n lekkerte vir ons almal. Ellard en ouma het sommer voor die tyd al besluit hulle gaan sy dubbelbed deel. Ek het my bedenkinge gehad, maar die twee het die saam slaap vreeslik geniet.

Ek het ‘n sterk vermoede dat ouma egter na die kuier ‘n 3 weke vakansie nodig gehad het. Sy is lankal nie meer gewoond aan woelige, raserige klein lyfies in ‘n huis nie. Sy wat self net 3 dogters gehad het kan ook maar net haar kop skud vir die kleinseun. Hy is verseker baie besiger (en meer lawaaierig) as wat ons 3 meisiekinders saam was. Moet my egter nie verkeerd verstaan nie, ouma geniet elke oomblik.

So tussen haar en die naby ouma word die rakkers egter vreeslik bederf. Salomie het tot die ontdekking gekom dat alles van iemand af kom en daai iemand is gewoonlik ‘n ouma. (Al te dikwels met ‘n oupa se geld). Op die manier moet ek gereeld deur die dag hoor dat Ouma vir haar die hemp of daai speelding gekoop het.

Die beste was egter toe sy gisteraand by die toonbank sit. Sy het haar hemp op gelig en gesê: “my magie”. Waarop ek toe sê “ja, jy’t ‘n mooi magie en naeltjie” (sy het dikwels die manier om na die naeltjie as ‘n magie te verwys). So ewe haak sy toe af “Ouma het my ‘n naeltjie ‘n koop het”. Ek het so gelag ek kon nie eers vra watter ouma nou die aankope moes gemaak het nie.