12 August 2011
Share

Met twee woelwaters in die huis is daar al te gereeld opmerkings wat te oulik vir woorde is. My gunsteling is die goedjies wat hulle verkeerd sê. Ellard wat van verloor ipv vergeet praat en van wol ipv wil.

Salomie gaan weer deur sulke fases. Dan kom dieselfde woord of sinsnede konstant voor. So was alles vir ‘n ruk “seker” iets. Sinne het iets gegaan soos “dit seker ‘n olifant”. Nou is ons op die “Ek ‘n sê”. Alles wat sy self kwyt raak herhaal sy, maar die tweede keer kom “Ek ‘n sê” voor aan. Dan wil ek haar ook opvreet as sy ophou huil en soos klok slag sê: “Ek nie meer hartseer nie”.

Die heel beste is egter vir my die interaksie tussen die twee. Julle mag dalk nog pappa se windjie speletjie onthou. Wel oor die naweek is my twee manne weer met die besig. Pappa beweer dit was Ellard. Ellard besluit, nee, dit moes Mamma gewees het. Mamma besluit sy moet die een ook maar aanskuif, “dit was Sussie”. Pappa troef vir Mamma, dit kan nie Sussie wees nie. Sy slaap immers in haar kamer (Hmm, dalk sou die hond ‘n beter keuse gewees het). Ellard kom egter tot Mamma se redding. “Dalk het ons dit uit die monitor gehoor”. Dankie, knaap. Mamma kon nie so blitsig aan ‘n uitkom kans dink nie.

Wanneer hulle so skerp is vergeet mens dikwels hulle is eintlik nog klein. Ek het dit net weer besef toe hy met sy broek verkeerd om aan uit kom na bad tyd. Ek het ewe mooi verduidelik dat die gatsak nou voorsit. Hy was egter nog nie oortuig nie en moes eers binne loer. “O, die briefie sit ook voor! Ek moet hom net draai.” En met die probeer hy die broek in die rondte draai sommer nog so aan sy lyf.