So het ons weer die Sondag ‘n heerlike familie braai. Dis ‘n gekuier uit ‘n ander wêreld en kinders wat hulle self voos speel. Toe die kos op die tafel verskyn kom dinge darem tot ‘n mate tot stilstand. Soos altyd is Ellard reg vir eet. Hy ryg die kersie tamaties in. Een van die is net te groot vir sy mond. Met die hap saam spat hy vir ouma vol tamatie sap. Met almal wat aan die proes is weet die knaap alle aandag is nou op hom. Ewe verleë haak hy af “hy’t gepiepie” (dis nou die tamatie). Toe skater almal natuurlik van die lag. Arme ouma.
Voor nagereg ontdek ouma toe ‘n klein Tinktinkie wat in een van die ruite vas gevlieg het. Natuurlik moet die kleine voëltjie toe eers verpleeg word. Al die kleinkinders is aan die kloek om die voëltjie. Die oudste niggie besluit sy sal hom warm hou. Met die eerste vat hou sy hom egter so styf vas dat sy oë amper uitpeul. Daarna gaan dit egter baie beter.
My swaer kon egter nie die versoeking weerstaan om die kinders te terg nie. Hy het vir Ellard gesê hy moet die voëltjie bring dat hy dit kan braai. Ellard is dadelik op die verdedig. Oom kan mos darem nie die Tinktinkie wil braai nie! Hy staan sommer viervoet vas en lyk soos ‘n wafferse verkeerskonstabel.
Dit spoor natuurlik net vir oom André verder aan. Hy’s op ‘n missie sitkamer toe om self die voëltjie te gaan haal. Met die is daar 6 kinders op hom. Almal erg aan die protesteer. Hulle het hom behoorlik toe gesak. Hy moes maar mooi verduidelik dat hy net hulle been trek.
Met die besluit Ellard egter toe sommer dat oom André veel eerder vir sussie moet braai!