Eenkeer ‘n week kom ‘n paar van ons bymekaar sodat die kinders lekker kan speel. Veral in die nat wintermaande is dit ‘n lewensredder. Dan is dit ‘n gegil en gejil. Ek hoop gereeld maar net dat die bure nie dan moet tuis wees nie.
Op so ‘n dag is hier altyd ‘n hoop fietsies – skopfietsie, tapfietsies en stootfietsies. Noem dit en dis hier. Dis nie net my twee s’n nie, maar ook die wat die maatjies saam bring. Tog is hier nooit genoeg wiele nie. Daar is immers altyd een spesifieke fietsie waarop almal wil ry. Dis nou die vinnigste een! Die klomp het immers besluit dis die fiets wat vinniger is en nie die maatjie op hom nie. So wie ook al hulle eerste resies wen se fiets is die een wat almal daai dag wil ry.
So tussen deur doen ons ook altyd ietsie lekker. Gereeld werk ons sommer die snoephappie vir al die honger magies in as ‘n aktiwiteit. So besluit ek toe een week dat hulle vir hulle self broodjies kan maak. Elkeen kry ‘n sny brood wat hy/sy self in vorms kan druk. Daarby is lekker jogurt en happies om op te sit. Goedjies soos halwe kersie tamaties, wortel stokkies, komkommerskywe, soetrissie ens. Die klomp het dit vreeslik geniet om elke hulle eie broodjie te maak. En het te lekker gesmul.
Die oomblik toe die een maatjie se broodjie egter klaar was het sy opgevlieg na haar ma. Sy wil graag ‘n ryskoekie hê. Natuurlik wil haar mamma weet of sy dan nie haar broodjie gaan eet nie. “Nee, ek eet nie groente nie” kom die antwoord baie gou. Ons het lekker gelag. Wys jou net, soms kan selfs groepsdruk hulle nie kry om te eet wat hulle nie wil eet nie.