Hier oor die pinkstertyd het dit smiddae maar dol gegaan. Die kinders moes bad en eet voor die diens en mamma het lekker rond gehol om alles reg te kry. Die Woensdag aand is ek oortuig dinge loop gladder as gewoonlik. Salomie wil eerste uit die bad klim, terwyl ouboet nog wil speel. Ek het haar klaar gaan aantrek. Kouse, stewels, de lot. Sy lyk te pragtig en mamma kan al al die oe’s en aa’s hoor.
Voor ek vir Ellard gaan uittel moet ek egter eers weer ‘n ogie gaan gooi op die kospotte. Dis hier waar dinge skeef loop. Skielik hoor ek ‘n benoude “sussie is nat”. Agge, nee, het hy haar nat gespat of het sy haar hande in die water gedruk? Ek storm badkamer toe. Daar staan ons pop skoene en al binne in die bad. Reuse glimlag op haar gesig. Baie trots dat sy self kon inklim en speelgoed uithaal. Ellard het teen die tyd lekker begin lag vir haar lawwigheid.
En daar is mamma se goed uitgewerkte skedule weereens omver gewerp. Ons pluk nat klere uit. Droog weer af. Gaan soek nuwe klere om aan te trek en skoene wat net nie heel by die nuwe uitrusting wil pas. Oor ‘n paar dae sal die stewels hopelik weer droog wees. Of hulle ooit weer dieselfde gaan wees weet ek nie.
En natuurlik begin ouboet kla dat hy koud kry en wil gaan aantrek…