Iewers in elke mamma se agterkop is die wete dat jou skattig peuter of kleuter eendag ‘n tiener gaan word. Die gedagte word egter ru na vore geruk as die PlayBall juffrou die dag opmerk dat sy nie wil hoor met watter redenasies jou kleuter as tiener vorendag gaan kom nie. Die juffrou is immers self ‘n ma van twee tieners. Op die besondere dag moes die klas ‘n bal met ‘n stok rol en voorgee dat hulle met hul hond gaan stap. Ellard het te lekker vir “Tressa” vir ‘n stappie deur die klas gevat. Na die eerste rondte gaan lê hy egter op sy bal. Juffrou wou hê hy moes verder oefen. Hy was egter gou om te verduidelik dat “Tressa” se been afgebreek het enn dat sy nie verder kan gaan stap nie.
Dit is ook nie die enigste tekens dat tienerskap glad nie sover weg is nie. Dieselfde vierjarige het immers besluit hy het privaatheid nodig. Saans moet ons asseblief sy kamerdeur toe maak, sodat kleinsus hom nie moet pla nie. Mamma sou dalk verwag dat die knaap die geleentheid gaan misbruik, maar in plaas daarvan gaan slaap hy nou baie soeter as voorheen.
So saam met die 4de verjaarsdag het die knaap ook in ‘n wurm ontaard. Ek kan net nie voor bly met kos aandra nie. Die ergste is seker wanneer hy die laaste happie op sy bord vat en sê: “Mamma, ek is honger. Wat kan ek nog eet?”. En so gaan dit die heeldag. Mamma se kreatiwiteit het al heel opgedroog. As jy immers elke half uur iets nuuts moet uitdink vir hom om te eet raak die opsies later min. En dan het hy dikwels die vreemdste idees soos ‘n appel en stroop broodjie. Dis soos musiek in my ore as hy sê: “Ek’s versadig”. Of “Ek het nou genoeg geëet”. So jammer dit gebeur so min.
Nou wonder ek net, as die streke nou al so vroeg begin is dit ‘n goeie teken of nie? Beteken dit dat die ergste reeds verby gaan wees teen die tienerjare? Of voorspel dit juis baie interessante jare wat voorlê?