Elke ma weet wanneer daar skielik stilte oor die huis daal dat daar iewers fout is. Waarskynlik groot fout. ‘n Stil kind is immers nege uit die tien keer besig met kattekwaad. ‘n Baba kan immers skaars kruip of hy weet klaar dat daar tye is wat jy liefs nie ‘n geluid moet maak nie. Ons almal het al ons eie weergawe gehad van klapper engeltjies op die eetkamer vloer. Of ‘n kombuis wat omskep is in ‘n versiersuiker winter landskap. Of die pophuis wat af gewit is met boudsalf.
Daar is egter ook tye wat dit juis die gebrek aan stilte is wat jou nekhare laat rys. Dit is nou wanneer jy 10 uur in die aand in die gang af stap, salig onder die indruk dat die kinders rustig slaap, en verdagte klank uit jou 2 jarige se kamer opklink. Jy loer behoedsaam by die deur in en daar sit sy ewe selfvoldaan. “Self skoon e maak”. In ‘n oogwink sien jy die hele pak baba “wipes” gestrooi oor die vloer. Haar broek wat onderste bo aan is. En ‘n doek wat in die hoek lê…
Die wete sink in dat net voor slaaptyd haar gewone vuil-doek-tyd is. Daarby was daar nog nie vanaand een nie. Die blote gedagte wat verder vir jou wag boesem vrees in. By nadere ondersoek is die juffrou egter doekloos, maar skoon. Die doek is ook net nat. Jy blaas stadig jou asem uit. Die verligting is groot dat daar die keer niks is om skoon te maak nie. Dankbaar bere jy die “wipes”. En jy maak ‘n skietgebedjie dat daar asseblief, groot asseblief nie ‘n volgende keer met meer smerige, welriekende gevolge sal wees nie.
NS. En skaars ‘n week later word jou hoop beskaam wanneer 2 kaal boudjies in die gang af gehardloop kom. Die keer besef jy met die eerste snuif en kyk dat jy minder gelukkig was. Die vuil doek lê en loer vir jou op die mat, die is besmeer, saam met jou pop se klere en haar gunsteling pienk sagte hasie sal nooit weer dieselfde ruik nie. Die vraag is nou net: Het die juffrou nou die les geleer dat sy nie self haar doek kan skoon maak nie?