5 September 2011
Share

Net voor slaap tyd vra ek my 2 rakkers om asseblief die balle wat die kamer vol lê weg te pak in hulle ballebak. Natuurlik is niemand te gretig nie. Ek maak toe die fout om te sê dat as hulle dit nie weg pak gaan ek vannag my nek breek. Wat gaan hulle dan sonder ‘n mamma maak? Ellard is glad nie te gepla nie.

Ek wil toe weet wie gaan vir hulle more pap maak en water gee. “Pappa kan” kom dit ewe selfversekerd. “Wel pappa moet werk toe, hy kan nie heeldag hier wees nie”. Ellard: “Dan sal ek dit self doen” (Dit klink heel belowend). “Maar gaan jy sussie se bollie doeke ook skoonmaak?”. Ellard: “Sy moet dit maar inhou”. “Sussie kan nie dit doen nie”. Ellard: “Ek sal haar net vinnig toilet toe vat”.

Mamma probeer toe maar ‘n ander taktiek. “Wie gaan haar pienk melkies warm maak?”. Ellard: “Sy moet dit maar koud drink”. “A, maar wie gaan die melk koop” vra pappa hier van die kant af. Ellard: “Pappa kan mos”. Teen daardie tyd is ek op geredeneer. Die balle is darem al weg gepak, maar Mamma is duidelik nie so nodig in die huis soos sy gehoop het om te wees nie.

Miskien is die tyd ryp vir bietjie Mamma-tyd. Duidelik hoef ek nie te skuldig te voel as ek vir ‘n dag of 3 wegraak nie. (As ek nou net vir kleinsus kon oortuig dat ouboet reg is).