0

Waar slaap sy vanaand?

5 September 2011
Share

Ons jongste het die gewoonte om elke aand iewers anders of op ‘n ander manier te wil slaap. En dan sommer onder ander beddegoed ook. Elke aand moet ek eers uitvind waar sy vanaand haar le wil kry. Gelukkig slaap sy maklik, dis net om iets nuuts uit te dink wat haar goed besig hou. Dan slaap sy op haar bed, dan op die spaar bed in haar kamer, dan op die vloer op haar baba matrassie, dan in die boks huis wat ons gemaak het. En selfs op en in elk van die wissel sy dit af. Dan slaap sy die kant toe op die bed, dan daai kant toe, en dan sommer skuins oor hom. Aan die begin het dit my ontstel dat sy in die winter koue op net ‘n boks kan slaap, maar blykbaar is dit baie gemaklik en raak sy nie siek daarvan nie.

Dis vir my vreeslik snaaks om dit te sien. Veral omdat ouboet een is wat hou van alles in ‘n vaste patroon. Hy wil op dieselfde plek, op dieselfde tyd gaan slaap. Dis storie lees, tandeborsel, toilet toe gaan, eers ‘n drukkie na links, dan ‘n drukkie na regs, dan 3 soentjies en laaste moet mamma (en niemand anders) hom styf toe maak.

Maar beste van alles is dat die 2 persoonlikhede so goed met mekaar oor die weg kom. Wie sou dit nou kon dink?