In ‘n huis met voedsel intoleransies is uiteet nou nie iets wat dikwels gebeur nie. Gister na kerk besluit manlief egter ons het iets om te vier en dis tyd vir ‘n uiteet. Ellard laat nie op hom wag nie. Hy wil garnale gaan eet by die see. By die huis met die rotse waar die pad vir die bote in die see in loop. (Dis nou Gordonsbaai se Ocean Basket vir die mag wonder).
Die kinders is dus vroeg deur die bad, sodat ons ‘n vroeë aandete kan gaan geniet. Soos ons geluk dit wil hê is die krag af en is daar geen aartappelskyfies nie. Wat ‘n ramp! Vir my kinders is uiteet en “chips” immers sinonieme. Ellard is gelukkig nie gepla nie, solank hy net garnale kan kry!
So sit en verkyk ek my aan die paartjies wat rustig sit en kuier en oor die see staar. By ons tafel is dit ‘n perd van ‘n ander kleur. Salomie is op en af, op en af, van haar stoel. In die proses beland haar sleg sappies oor alles. Mamma skarrel rond om almal gelukkig te hou. Salomie verstik aan ‘n stukkie komkommer en mamma moet maar net red. Ellard besluit dis beter om te staan en eet en daar is rys die wêreld vol. Hoe uiters vervelig sou ‘n ete sonder die twee nie gewees het nie! Duidelik het ons te lank al kinders. Ek kan my net nie meer ‘n lewe sonder hulle voorstel nie.
Op pad huis toe sê ek dankie vir ‘n heerlik ete. Hier van agter kom dit ewe: “dis ‘n plesier dat ek gedink het ons moet kom garnale eet”.
Natuurlik raak Salomie op pad huis toe aan die slaap. Dit ten spyte van al ons beplanning om seker te maak ons is net na 7 alweer terug by die huis. En natuurlik na die “power nap” is sy soos die Energiser hasie wat net nie voor 10 tot ruste kan kom nie.
NS. Vir die wat wonder. Sleg sappies is Sprite (wel enige iets met borrels). Toe Ellard kleiner was het ek vir hom vertel dis sleg vir hom. Op vakansie gee oupa toe vir die knaap ‘n sluk Pepsi en die koeël is deur die kerk. “Hmm, lekker sleg sappies.” Wel daarna het die gaskoeldrank bedryf nog ‘n aanhanger en dis herdoop na sleg sappies.