0

Mev 14

12 October 2011
Share

Daar lê ek op ‘n Maandag aand, nog slaap dronk van narkose, na ‘n in-en-uit-prosedure in ons plaaslik hospitaal (hier’s nie ‘n dagkliniek vir die klas ding nie). Ek geniet nog die saligheid voor ek weer huiswaarts kan keer. Dis eintlik ongelooflik dat jy 5 uur kan teater toe gaan en 7 uur weer huis toe, maar as mamma is ek te dankbaar vir die spoed waarteen dinge deesdae gebeur.

Ek hoor hoe besoektyd aanbreek. Mevrou nommer 14 (in ons kamer van 4) is duidelik nie so gelukkig om vannag in haar eie bed te slaap nie. Haar man en 2 kinders het kom besoek aflê. Enige ander pasiënt sou waarskynlik lekker gekuier het, maar Mevrou 14 is immers ‘n mamma. En mamma’s is ‘n spesie van hulle eie.

Inplaas daarvan dat sy rus, die tydjie in die hospitaal, begin sy amper dadelik met die oudste se huiswerk. “Wat rym met huis?”, “Jy dra ‘n pruik op jou…?”, so dreun die vrae voort. Kleinsus probeer so tussen deur ‘n woord of 2 in kry. En mamma probeer haar bes om aandag aan beide te gee.

Die lewe van supervroue en -mamma’s. Daar skuil seker een in elkeen van ons. Binnekort sal ons tyd vir huiswerk ook aanbreek. Ek besluit nog hoe ek oor dit voel.

Al julle supermamma’s en -ouma’s, weet net al die opofferings is die moeite werd.

NS. Net weke terug moes ek hoor dat my 2 my nie te veel gaan mis as ek weg is nie. Hulle kan immers alles SELF doen. Hulle deuntjie het egter bitter gou verander met die vooruitsig dat ek net vir 3 ure weg sou wees. Maak my hart sommer warm om te weet ek word darem ook gemis.