0

Bloedspoor

12 October 2011
Share

Die opskrif moet seker lees “Mamma bloedig aangeval deur twee-jarige”. Maar wie sou die glo. So net voor slaaptyd is my twee woelwaters weer op hul woeligste. Inplaas van om rustig te raak as hulle moeg word gaan hulle in “overdrive”. Ek sien die tekens en besluit dis tyd vir ‘n slaaptydstorie, maar duidelik moes ek tot die besluit gekom het 10 minute vroeër. Oordeelsfoutjie van my kant af.

Ons jongste storm met haar trom op my af en ek kry ‘n yslike hou teen die mond. Ek is nie seker wie meer verbaas was of groter geskrik het nie, ek of sy. My eerste gedagte is dat dit net lekker gekneus is. Dis tot ek die smaak van bloed kry en moet ontdek daar is bloed die wêreld vol. Ek storm badkamer toe.

Pappa is nie seker waar om te vat en waar om te los nie. Hy kan nie mooi besluit of hy my moet help en of hy moet baklei nie of dalk moet hy sy jongste probeer troos. Almal is skoon verskrik. Iewers tussen die chaos deur kry ek darem die ergste bloed gestop. Ellard probeer troos my (liewe knaap). Dis darem net my bo-lip wat oopgebars het en buiten vir die ongerief is dit darem nie ernstig nie. Ek gaan egter nog vir ‘n ruk ‘n paar snaakse kyke moet verduur (en ek is seker heelwat gaan spekuleer wat gebeur het, my arme onskuldige man).

Terwyl ek teen die badkamermuur sit en herstel (om een of ander rede kon ek nog nooit my eie bloed hanteer nie) is dra pappa suikerwater aan, maak die bloedspoor deur die huis skoon en lees daai amper vergete slaaptydstorie. En vir een aand gaan slaap die 2 sonder ‘n boe of ‘n ba. Amper te goed om waar te wees.