2

Golwe teen die muur

12 October 2011
Share

Dit bly vir my ‘n misterie hoe ‘n minuut of 2 van pret vir ‘n kleuter kan lei tot ure se skoon maak. Ek was ewe trots dat ek teen 2 al vir ons oudste geleer het om nie teen mure en meubels te teken nie. Blykbaar het hy die lessie teen 4 vergeet (of verloor soos hy sou sê).

Deesdae word ons mure gereeld versier met sy skeppings. En ongelukkig kry ek hom nie so ver om die streek te los nie. Hy geniet immers die ure van skuur om dit weer skoon te maak. So hoe nou gemaak.

Sy nuutste kunswerk pryk oor die hele lengte van ons huis. Die pragtigste golfpatroon. Nou as mamma kan ek dalk die blou skepping waardeer. Ek is net nie so seker dat die eienaars van die huis wat ons huur dieselfde daaroor gaan voel nie. ‘n Halwe bottel Handy Andy en ‘n spons later kan ek wel vermeld dat die muur voorheen ‘n skakering ligter geverf was. Ongelukkig is sy meesterstuk nou net ligter, maar nie weg (So enige wenke van veteraan mamma’s, om blou kryt van ‘n buite muur af te kry, is welkom).

Die einste knaap het ook sy haarkapper vaardigheid op sy kleinsus uitgetoets. Blykbaar het sy gevra dat hy haar hare sny. Miskien moes ek nie haar eerste haar sny so lank uitgestel het nie? Hoe dit ook al sy, mamma was minder beïndruk. Gelukkig het die klein pop krullerige hare, so die skade is minder sigbaar as wat dit seker kon wees. Plus nou het ek 3 pragtige lang lokke om in haar album te plak.