0

Vreugde van ma-wees

9 November 2011
Share

Dis ongelooflik om te dink dis al 5 jaar terug wat ons uitgevind het ons is swanger vir die eerste keer. Dit voel dan nog soos gister toe ek bewend en ongelowig na daai twee strepies op die toetsie gekyk het. Vandag hardloop hier 2 besige lyfies in ons huis rond en sorg vir hope vreugde (en uitputting). Mens moet seker eers self kinders hê om presies te verstaan hoe baie hul mens se lewe verander.

Verby is kerslig etes, opkrul op die bank voor die TV en vroeg gaan inkruip snags. Ons het dit ingeruil vir skaterlaggies, nat oopmond soene en die heerlikste kinderdrukkies. Ons silwerskoon huis het ons verruil vir taai handjies, sjokolade bekkies en blik ogies. Laat slaap naweke het nou oggende van rofstoei en lag op die dubbelbed geword. Wat is beter as ‘n speelgoed gogga geskenkie toe gedraai in ‘n getekende prent? Dit als was die beste winskoop ooit.

So tussen die min slaap deur vergeet mens soms van al die nuwe wonder wat in jou lewe is. Dankie aan my japsnoete vir al die vreugde, onvoorwaardelike liefde en vertroue. Dis ‘n voorreg om julle mamma te kan wees en elke oomblik van elke dag met julle te deel.