2

Altyd in ons harte

9 November 2011
Share

Ek is een van die gelukkige/ongelukkige ma’s wat net altyd dadelik weet ek is swanger. Dit het sy voordele, maar dit beteken ook dat daar elke keer 2 laaaang weke voorlê voor ek daai toetsie uiteindelik kan doen. In daardie tyd wonder ek altyd of ek regtig swanger is? Of dit nie dalk wensdenkery is nie? En die keer was niks anders nie. Buiten dat ek ook gewonder het hoe manlief hieroor gaan voel. Dit was immers nie in ons beplanning nie.

Uiteindelik kon ek egter toets en ek was uit my vel. Ek was seker dit was oor my gesig geskryf, maar tog het niemand iets agter gekom nie. Wel, buiten die hond en die kinders. Tressa was skielik weer heeltyd onder my voete (en as hier kuier mense is aan my vas geplak). Sy raak altyd so oorbeskermend as ek swanger raak. Die kinders was ‘n heel ander storie. Ellard was aggressief, hy het my begin skop en slaan. Ek kon die skielike gedrag net glad nie verstaan. Daarenteen was Salomie huilerig en wou net heeltyd in my arms wees.

Teen 5 weke kon ek net nie meer die nuus vir myself hou nie. Ek het ‘n babamus gehekel en op Jaco se kopkussing gesit. Hy was in die wolke. Skielik het hy my regtig opgepiep (hy was laas so toe ek swanger was met Ellard). Ek moet rus; ek moet tog nie dit nie en ook nie dat nie. Maar dis lekker.

Net voor 6 weke is ons vir ons eerste sonar. Alles lyk perfek. Die datum is wel met amper ‘n week uit, maar ek het dit verwag. Ellard en Salomie se 5 weke datums was ook met 4 dae uit. Aanvanklik wou ons die nuus bêre vir later, maar die kinders se gedrag het ons oortuig dat nou dalk eerder die tyd is. En as hulle weet sou almal in elk geval immers uitvind.

So vertel Jaco toe die aand vir Ellard dat daar ‘n baba in mamma se magie is. “Ag,” kom die antwoord, “babas is maar vervelig in die begin”. Ha-ha, dit nou van die knaap wat heeltyd nog 2 boeties EN 2 sussies bestel het. Gou is hy egter heel in sy skik met sy boetie wat in mamma se magie groei. Ja, hy is oortuig dit is ‘n boetie en niks anders nie. Ons moet vir ‘n 3de keer “wat is in mamma se magie” gaan uitneem. Ellard was opgewonde en Salomie het in ‘n moederhen ontaard. Sy het my hare gesteel, en my wang. Of sommer net in die oggend in ons bed gekruip en vir my vertel ek het mooi oë. Dit nou van ‘n pop wat nie regtig die drukkie en soentjie tipe is nie. Dit was so kosbaar.

Ek het van die begin af die gevoel gehad my progesteroon vlakke is te laag. Soos met Ellard moes ons maar wag tot ek begin bloei (spot) en dit van daar af vat. Verder was die egter ‘n droom swangerskap. Ek was nie vreeslik naar nie, inteendeel die naar was beter as wat dit in die laaste 3 jaar was (vandat ek met Salomie swanger was, is ek maar konstant meer of minder naar). Ek was net lekker pootuit.

Ellard het besluit hy wil terug trek na sussie se kamer – Dan kan die baba sy kamer kry (vreeslike oulike ouboet). Ek dink hy het lankal ‘n verskoning gesoek vir die skuif. Die laaste ruk het hy immers meer by haar as in sy eie kamer geslaap 😉

Toe begin ek bloei (spot), terwyl Jaco weg was vir besigheid. Gelukkig was die uit huisigheid die keer net ‘n vir ‘n week en nie die gewone 2 tot 3 weke nie. Hy was dus weer terug toe ek die dokter moes gaan sien. Ek sou die volgende dag 8 weke swanger gewees het, so ons was baie opgewonde oor die sonar. Die dokter was ook glad nie bekommerd oor die bloeding nie, ek het immers geen krampe gehad nie – ‘n goeie teken.

Toe die onvergeetlike sonar. Die wys dat ons maar 6 weke swanger is. Ek sien die simpatie in die dokter se oë. Hy probeer my moed in praat. Daar was immers ontwikkeling in die 2 weke, dalk is my datum net heel verkeerd. Ek weet egter daar is niks fout met die datum nie. Daar is fout met ons baba.

Toe die naweek van onsekerheid. Ek moes gaan vir 2 bloedtoetse om te sien wat my hormoonvlakke doen. Gelukkig was die patoloë oulik en het sommer direk vir my die uitslae Saterdag gegee. Dit het net bevestig wat ek reeds geweet het. My hormoonvlakke was reeds aan die daal. Ek was besig om ‘n miskraam te hê. Ek was verpletter. Dankie vir ‘n ongelooflike man wat die kinders die 2 dae besig gehou het.

Genadiglik is die lang wag Sondag beëindig. Ek het in alle êrens begin bloei. Teen die tyd dat my dokter Maandagoggend 7 uur gebel het met die bloedtoets resultate, kon ek hom mee deel dat dit onnodig is. Hy wil dieselfde middag nog ‘n skraap doen. Ek is ontsteld, ek wil niemand sien nie, wat nog van spreekkamer en hospitaal toe, toestemming kry by die medies en ‘n oppasser reël vir die kinders!

Die grootste uitdaging is om vir die kinders te verduidelik wat aan die gang is. Dankie tog vir ‘n vistank met vissies wat van tyd tot tyd dood gaan. Dit het hulle ‘n baie beter begrip gegee van wat dood beteken en dat dit nie altyd met ‘n rede gebeur nie. Ellard probeer troos “toemaar mamma, Jesus sal weer vir ons ‘n baba stuur”.

Ellard was van die begin af oortuig die is ‘n boetie. En in sy wêreld kry mens eers ‘n boetie en dan ‘n sussie. Dis bloot hoe dit werk. Die volgende dag kom hy dus ewe beswaard by my. “Ek dink die volgende baba gaan ‘n girl wees”. Ek kon net lag. Hy wil tog so graag ‘n boetie hê om mee te “roei en stoei” soos hy sou sê.

Vir ons almal was die maar ‘n hartseer tyd en die naweek van die 16de September is uit gebeitel in my geheue. Maar wat ‘n ongelooflik voorreg was dit nie om weer vir ‘n paar weke ‘n nuwe lewe onder my hart te dra nie. God maak alles so goed. Akkerdoppie (soos pappa jou genoem het) jy sal altyd in ons harte en deel van ons gesin bly.