1

Hekel uitdaging

9 November 2011
Share

Jare terug het ‘n kollega en goeie vriendin my leer hekel. Vir lank het ek net vir myself en vriende/familie gehekel. En toe die kinders eers die huis vol gehol het is die hekelnaald net uit gehaal as daar ‘n spoegdoek om gehekel moes word.

Vroeër die jaar pak die hekel lus my egter weer beet. (Miskien is die kinders besig om te vinnig groot te word). Eers hekel ek vir die kinders musse en haarbande vir Salomie. Toe soek ek nog goed om te hekel en die basaar slaan ‘n slag. Daarna volg jasse vir my, Salomie en die Playball juffrou en ‘n geskenk vir ‘n vriendin of twee. Maar toe hardloop ek uit idees. Teen die tempo gaan die huis vol hekelgoed wees en die stokperdjie raak duur!

Stadig maar seker begin ‘n gedagte kop uitsteek. Hoekom smous ek nie my werk nie? Maar waar vind ek ‘n mark? Hou nou gemaak? Die wat my goed ken sal weet ek kan nie water in die Sahara woestyn verkoop nie.

Toe pak ek maar ‘n nuwe bul by die horings en ek skep my eie webwerf en facebook blad! Was dit nou nie ‘n gespook nie. Onkunde is maar ‘n vreeslike ding. Bloot om ‘n naam te kies was al ‘n uitdaging genoeg. Maar uithouvermoë oorkom alles! (Dankie kleinsus, sonder jou sou ek seker steeds gesukkel het). Vandag is Lomi Creations “op die lug” en hopelik groei my facebook blad ook vinnig. Maar meer nog mag daar siele daar buite wees wat bestellings wil plaas. Ek is lus vir hekel!

Hoop julle kom loer almal in en versprei die woord!