0

Oorlewing in ons tuin

7 December 2011
Share

Ons knaap het ‘n nuwe held: Bear van Ultimate Survival. Wanneer sus haar middag dut gaan vat maak hy hom tuis voor die TV. Dan is dit Ultimate Survival uur. Die aanhang bly ook nie net daar nie. O, nee.

As Bear die dag ‘n vlot gebou het dan is die middag aktiwiteit vlot bou. Elke denkbare stok of tak word nader gesleep. Daarna loop my arme Wilde Irisse deur. Die blare is immers net reg om as “tou” gebruik te word. As Bear ‘n skuiling aanmekaar gesit het, maar die kleinman ook ‘n plan. Die tuinstoele word nader gesleep. Daarop stapel hy hul leë skulp swembad/sandput. Dan begin die pret eers. Al die takke wat ons gesnoei het word nader gesleep en teen die skulp “dak” gepak. Vir afronding moet daar natuurlik blare ook opkom.

Hier stop dit ook nie. Is die belangrikste deel van oorlewing nie immers vuur maak nie? Hy het mooi af gekyk. Eers groter takkies, dan die kleintjies en heel bo kom die droë grassies (en as daar nie is nie sal hy pluk en dit laat droog word). Daarna word stokkies teen mekaar gevryf of klippe teen mekaar gekap. Ek vrees die dag dat die vuurmaak suksesvol is.

Meer as dit vrees ek dat die knaap Bear se eetgewoontes gaan na-aap. Hoe gril ek nou. Kom ons hoop hy luister na al ma se aanmanings.

Kleinsus laat ook nie op haar wag nie. Sy is nou nie ‘n Ultimate Survival entoesias nie. Nee, Shaun the sheep en Mickey Mouse Clubhouse geniet haar aanhang. Maar as daar gespeel word staan sy nie ‘n tree terug nie. Sy help aandra en het ongelukkig nie ouboet se fyn smaak nie. Sy wil sommer aan alles proe ook.

Natuurlik bly dit ook nie net by bou en vuurmaak nie. Nee, daar moet ook geklim en klouter word. En niks is te hoog om van af te spring. So tussen ma se skiet gebedjies deur word die twee groot.