Skuins agter ons bly een van die kinders se maatjies. Net mooi so dat die twee erwe se hoeke bymekaar kom. Dit het nie lank gevat vir die ouste twee om te besef hier is kuier potensiaal nie. Dit het begin met die maatjie wat in haar toring/klimraam sit en ‘n gesprek voer (kom ons wees eerlik, dis eerder ‘n geskree uit ‘n ander wêreld) na waar my twee speel.
Gou het my vriendin besef hier sal plan gemaak moet word. Hulle pak toe ‘n hoop bakstene in die hoek van hul erf, sodat haar meisiekind eerder daar kan staan en kuier. Nou staan die aan die een kant van die heining en my knaap op ‘n stoel aan die anderkant. So word menigte middag om gekuier.
Dit alles begin egter met ‘n onaardse geskree. Sien die een moet immers eers die ander se aandag kry. Om te wag tot die ander in die tuin speel sal net nie deug nie. As die kuier lus hoog loop, moet jy plan maak. Hier eindig die lawaai nie. Dit is net die begin. Dis ‘n gekuier en grappies vertel, ‘n gegiggel en ‘n gelag uit ‘n ander wêreld. Die feit dat die bure nog nie gekla het nie, beteken hopelik dat hulle nie smiddae tuis is nie.
Jy kan egter nie ‘n knaap op ‘n stoel vasplak om net te kuier nie. Hy kuier ‘n rukkie, dan hol hy eers rond. Kuier dan weer en dan moet iets gehaal word. So word daar kos oor die heining uit geruil en sommer enige iets anders. Van riete en stokke, tot prentjies en pamflette. Elk het immers sy eie skatte om mee te spog.
Ek kan net wonder hoe lank die storie gaan aangaan en of die twee as hulle groot is die groot gekuier oor die muur sal onthou.