9 December 2011
Share

2011 was in baie opsigte soos enige ander jaar. Gevul met sy eie uitdagings, vreugdes en hartseer. Dit was ‘n jaar waarin sekere drome geëindig en ander begin het. ‘n Jaar met die hartseer van ‘n miskraam, maar ook die geboorte van Lomi Creations.

Die jaar het my weer laat besef dat alles afhang van hoe jy daarna kyk. In die hartseer tye kan jy vas kyk in negatiewe of bly fokus op die goeie wat ook weer daaruit spruit. Jy kan die moeilike tye sien as ‘n hindernis of ‘n uitdaging om hoër en beter hoogtes te bereik. Dis jou keuse hoe jy in ‘n moeilike situasie gaan reageer. Of jy soos eiers in kookwater hard gaan word, soos wortels sag en of jy eerder soos koffie die water gaan geur. Ek hoop dat ek die jaar eerder my omstandighede gegeur het as dat dit my hard of sag gemaak het.

2011 was ook ‘n jaar van openbarings. ‘n Jaar waarin ek besef het ons is eintlik in moderne terme reeds ‘n tuisonderrig gesin. Kinders wat teen 4, amper 5, steeds tuis is is deesdae nie bloot net nog nie in die skool nie, nee, hulle word tuisonderrig. Die ontdekking het my skoon verbaas. Waar ek voorheen nooit eers tuisonderrig oorweeg het nie, begin ons nou sterk wonder of ons ooit die 2 woelwaters skool toe gaan stuur.

In 2012 gaan ons dus besluite neem wat waarskynlik die volgende 15 jaar + van ons lewens gaan beïnvloed. Ek voel opgewonde om te dink aan die moontlikheid om die 2 alles te leer, maar ook onseker. Toe ons 4 jaar terug besluit het dat ek tuis na die kinders gaan kyk was dit immers ‘n kort termyn besluit. Ek sou vir ‘n paar jaar tuis wees, as die kinders skool toe gaan waarskynlik verder gaan studeer en dan weer begin werk (hopelik halfdag sodat ek smiddae tuis kan wees). Nou lê die toekoms ietwat duister voor ons, maar ek weet ook dat God ons deur die tyd sal lei. Ek vertrou dat met ons hande in Syne ons die regte pad sal vind.

Ek kyk terug op ‘n jaar gevul met al die vreugdes van my kinders. ‘n Jaar waarin ek oggende begin met 2 warm lyfies wat saam met my in die bed kruip. Ek kan aan geen beter manier dink om elke dag te begin nie. Dis ‘n jaar waarin ek gesien het hoe my woelwaters gegroei en ontwikkel het. Ellard het ontpop in ‘n jong kunstenaar en ek wil net die hele huis vol plak met al sy skeppings. Salomie het ‘n onafhanklike rabbedoe geword wat heeldag liefies uitdeel.

Dis met groot opwinding wat ek uitsien na 2012 en alles wat dit inhou.