Ons poppelop is op die oomblik gefassineer deur grimering. Ek dink sy dra deesdae meer gereeld grimering as mamma (mamma is nie juis die “paint”-en-poeier tipe nie). Elke oggend, ongeag of ek grimering aan sit die dag, vra sy vir “lippies” (dis nou lipgloss). Dan ‘n vee met die onderlaag sponsie. Onlangs het sy ook ontdek oogpotlode kan pragtige strepe trek.
Die fase is nie vir my ongewoon. Ouboet is immers ook daardeur. Hy het net heel ander planne gehad met mamma se “mooimaak goed”. Ek onthou te goed hoe ek hom eendag so 2 jaar terug in my kamer vind nadat ek sus gevoed het. Daar staan hy ewe tevrede en bewonder sy kunswerk. Jackson Pollock sou kon kom vir lesse. Daar was die interessantste motiewe oor die mat en ons duvet.
En die man het duur smaak gehad. Natuurlik het hy net die beste gebruik (en verwoes). Eending wat ek wel wys geword het is dat as Clinique sê hul grimering is gemaak om lank te sit, dan bedoel hulle dit. Wat ‘n drama was dit nie om die meesterstuk skoon te kry nie.
Natuurlik moes ek verwag het dat kleinsus sou volg in ouboet se voetspore. So kon sy toe een aand ewe in die gang af. Baie trots op haarself. “lippies verf”. (ek moes geweet het die gaan slaap die spesifieke aand het net te maklik verloop) Sy het geen begeerte gehad om met dit te mors nie. Wel nou nie mors op die mat of iets nie. Nee, die klein juffrou het in ons donker kamer haar gesig gaan mooi maak. Spier wit lippe, lipliner oor haar oë. Ek moes seker baklei het, maar ek kon net lag vir die vreeslike gesig.
Die twee se mooi maak eskapades stop ook nie hier nie. Pop, hulle lewensgrootte looppop, is gewoonlik die proef konyn vir hulle dokter-dokter speletjies. Onlangs het die twee egter besluit sy kort ook ‘n bietjie mooi maak. Met vetkryt het hulle eers haar gesig en toe later hele lyf beteken. Wat ‘n gesig!