“Girls is nie so goed soos manne nie.”
“Hoekom nie?”
“Girls dink slegte goed.”
“Slegte goed?” “
“Soos girls wat nie vir manne luister nie. Manne doen manne goed soos in die ‘garage’ werk en speletjies speel”
Dis nou ‘n gesprek wat ons met ons knaap gehad het. En nee, hy is nie ‘n chauvinis in wording nie. Van sy beste maatjies is immer dogtertjies. Hy begin net ontdek dat seuns en meisies anders is en anders speel.
Al te gereeld word daar deesdae van die ‘girls’ gepraat. Blykbaar is ons maar vervelig vir ‘n vierjarige seuntjie. Girls speel net nie dieselfde speletjies nie. Ons hou nie van dieselfde stories of TV programme nie en ons is verseker nie rof genoeg nie. En kleinsus is die “skuldige” een wat nie na hom “luister“ nie. Vroeër sou sy maar net saam met hom speel, maar nou het sy begin ontdek sy kan speel net wat sy wil speel. Dit dra natuurlik glad nie sy goedkeuring weg nie. Wie gaan dan nou heeldag saam met hom “manne” dinge speel?
Ek het baie begrip met die man se frustrasie. Om een of ander rede is hy omsingel van meisies. Ons buurt en dorp loop oor van hulle. Buiten vir die uitsondering is die meeste van die maatjies wat gereeld kom speel almal dogtertjies. Dan is daar natuurlik sussie en die 2 niggies van hulle ouderdom ook nog. Tydens ons Donderdae oggend saam-speel is hy die enigste haan onder die 7 henne. Moenie dink hy geniet dit nie vreeslik baie om met hulle almal te speel nie. Dis die hoogtepunt van sy week! Maar ‘n seuntjie wil darem ook seuntjie maatjies hê saam met wie hy rof kan speel en die desibels opjaag. Nog maatjies wat bewondering kan hê vir sy reuse versameling karre en trokke in elke denkbare grote en kleur.
Een ding is egter seker daar gaan nie eendag ‘n te kort aan meisies wees van sy ouderdom nie. Hy het net nie nou al waardering vir die voorreg nie.