0

Snip-snip

13 December 2011
Share

Nie te lank terug het ons poppelop besluit dis nie regverdig dat net ouboet se hare gesny word nie. Hare moet ook korter. As niemand anders nou saam stem dat haar lokke moet waai nie, is daar altyd ouboet. Die het sy gou een middag in die werk gesteek om haar hare te sny. Gelukkig was die skade nie te erg nie (dit was agter en die krulle steek dit goed weg).

Ek het besluit ons sal haar punte moet sny net om haar gelukkig te hou. Vir ‘n paar dae was sy dood tevrede met die sny. Die tevredenheid het egter nie lank gehou nie.

Na die eerste episode weet ouboet egter dat hy nie mag sny aan haar hare nie (al vra sy hoe mooi) en toe moes sy ‘n ander plan maak. Sien met my nuwe handwerk “besigheid” (as jy dit al so kan noem) wat my goed aan die gang hou is daar deesdae altyd wol, hekelnaalde en ‘n skêr iewers te vind. Sy het vinnig die potensiaal hier in gesien. Boeta kon miskien net ‘n paar lokke beet kry, maar sy kon beter doen. Die keer waai daar meer as net ‘n paar sentimeter se hare. Nou spog sy met ‘n kuif (twee en ‘n half jaar se groei na die maan).

Al wat skêr is word nou weg gesteek, maar ek vrees die dag dat sy wel een in die hande kry. Ek moes ontdek dat die hare in haar gesig haar pla. Natuurlik het ek ‘n oplossing. Iets so eenvoudig soos ‘n haarrekkie, knippies of ‘n haarband. Daar is ‘n hele laai vol van die aller fraaiste mooi goed. Sy dink egter nie dis die oplossing nie. Dit beteken immers haar hare moet gekam word en dan is daar ‘n “ding” in wat haar pla. Nou hou ek maar asem op en hoop voor die hare weer waai kan ons haar gewoond kry aan “dinge” in haar hare.