0

See mal

18 January 2012
Share

Ons oudste, ‘n Golden Labrador wat al 6 is, het vir die eerste keer die jaar saam met ons vakansie gaan hou. Dit was immer ons eerste “naby” vakansie. Sy was nie baie beïndruk met die 2 ure rit nie en ook nie met die vreemde huis nie. Dit alles het egter gou oor gewaai. Met haar eerste uitstappie saam see toe het sy behoedsaam die water gepoot en toe ‘n reuse lek gevat. Daai honde gesig was klassiek! Dit was ook die laaste slukkie sout water wat sy gedrink het. Daarna het sy baie versigtig saam met ons in die getypoele geloop. Die eerste aand het dit gelyk of sy op eiers loop, daai pote moes baie seer gewees het na al die klip loop. Die huis-hond was dit immers glad nie gewoond nie.

Na die eerste ervaring was sy egter ‘n see-hond van formaat. As dit net lyk of iemand see toe wil loop was sy reg om saam te gaan (en uiters bek af as die uitstappie haar nie ingesluit het nie). Sy het die water baljaar meer as die kinders geniet en almal gereeld sopnat gespat met haar uitbundigheid.

Dit was ‘n voorreg om die vakansie soggens op te staan en na die see te kyk. Dis te heerlik, maar het ook sy nadele. Sien die oomblik as my drie (ja, ek moet die hond by die een tel) hulle oë oop maak en die see sien, wil hul die see bestorm. Die kinders het meer tyd in hulle swembroeke deur gebring as in enige iets anders. Hulle is nou kenners van die getypoele. Van seepampoentjies tot seesterre, van klipvissies tot anemone. Ons het selfs ‘n paar klipvisse in hul net gevang gekry en ons bul het meer as een aan sy hoek gekry.

Die beste van die vakansie was egter die tyd wat ons almal saam kon spandeer. Kosbaar verby.