Een van die vrae wat ek seker die meeste kry is “hoekom is jul 4 (amper 5) jarige nog nie in die skool nie?”. Hmm, hoekom nie? Ons almal geniet dit heeltemal te veel by die huis. Skool is deesdae al 13 jaar lank. Hoekom MOET hy nou al in die skool wees?
Die tweede vraag is gewoonlik dan, “hoe hou jy hulle heel dag besig?” Wel ek doen nie. Die grootste deel van die dag speel die 2 rakkers te lekker. Hulle is mal oor buite speel, legkaarte en blokkies bou, prente teken, knip en plak en klei speel.
Ons dag verloop baie rustig. Ons staan lekker laat op (gewoonlik eers rondom 8 uur), eet rustig, luister dalk lekker musiek (en dans soos mal goed rond) en trek aan. Dan probeer ek hulle meeste van die tyd vir so ‘n half uur besig hou. Ons lees Bybel en gediggies en daarna doen ons ‘n “lessie”. Die lessie kan enige iets behels. Soms is dit net lekker knip en plak, ander kere is dit oor iets waarin hulle op daai oomblik belangstel. Die res van die dag speel hulle lekker en help my in die huis, maak saam kos en skoon.
Op die oomblik is die knaap se groot fassinasie mierleeus. Hy het op “Bug wars” gesien hoe hulle gate grawe en ‘n mier vang. Nou is hulle sy gunsteling. Die mierleeus in ons tuin hoef ook nie te wag vir kos nie. Nee, hulle word gereeld gevoer! Hy vang miere en gooi dit dan in hulle gaatjies om te sien hoe hulle die miere vang en eet.
So vandag se les was oor mierleeus. Ek het gister gou die internet fyn gekamp vir oulike inligting en foto’s en natuurlik prente om in te kleur. Ek het oulike inligting gekry by www.mieliestronk.com/mierleeu.html. Daarna het ons foto’s gekyk op Antlion Pit: What are Antlions? en AntLionDen.com – Antlions, Doodlebugs, Ant Lion Zen Dens & Science Projects – Ant Lion Pics en video’s op Weg! Multimedia | Mierleeu in aksie en Video — Antlion’s Death Trap — National Geographi .
Die 2 het dit baie geniet. Maar die lekkerste was seker om die prente in te kleur en blink papier op die volwasse mierleeu te plak. Dis altyd interessant om te sien hoe min geduld hulle het met inkleur na ‘n naweek. Soos die week vorder word daar baie meer “binne die lyne” in gekleur.