2

Gehekelde juwele

19 January 2012
Share

So tussen deur alles is ek ook besig met ‘n nuwe reeks gehekelde juwele vir Lomi Creations. Dis een van my oulike vriendinne wat my die gedagte gegee het. En sjoe, is dit nou nie pret nie! Plus in die hitte is dit heelwat makliker om te hekel as ‘n kombers!

Ek het nou al ‘n hele paar oulike goedjies vir kinders en vroue gemaak en verder snuffel ek oral rond vir oulike patrone. Natuurlik met die soektogte saam het ek al ‘n paar van my eie patrone uitgedink.

Manlief noem die groen stel my Afrika juwele. Ek dink egter dit het oulik uitgekom. Ek het op die patroon vir die armband afgekom en toe sommer my eie hangertjie en oorbelle gemaak om daarby te pas.

Natuurlik geniet ons Pop die uitstappie. Mamma se eksperimente beland immers om haar nek en arms. Watter meisie wil nou nie mooi goedjies dra nie!

Op die oomblik is ek besig met een van my eie skeppings. Ek sal foto’s laai as dit uiteindelik klaar is. Dit vat egter heelwat langer as wat ek gedink het. Ek weet ook nie mooi wat om dit te noem nie. Dis ‘n baie laaaang hangertjie. Jy kan dit dubbel of selfs drie keer om jou nek sit of as ‘n gordel dra. Iets anders as die gewone.