Ons is mal oor die groot rolle ongedrukte koerantpapier. Ons het 2 rolle gehad wat nog oorgebly het na die trek, maar die is nou al ‘n ruk lank klaar. Laas week het ek uiteindelik nuwes gekoop deur Dinah’s Paper. Die kinders kon nie wag om te begin teken en verf nie!
Gister het ek toe 2 groot stukke op die grond uitgerol en ons het ons eie dorp daarop geteken. Die 2 het te lekker gehelp met die dorps uitleg en inkleur. Daar is ‘n renbaan op, ons en al die maatjies se huise, die dam, die park, oupa-hul se “plaas”, die brandweer, polisie, hospitaal, winkel en selfs ‘n woestyn (of “Desert” soos die bul sê vir die 4×4’s om te gaan ry). En moenie die dino park in die middel van die renbaan vergeet nie. Ons het ook ‘n treinspoor gebou tussen die plaas en winkel om die produkte te kan vervoer!
Dit was sommer hope pret. As ek weer sien is die twee besig om weer daarmee te speel. Ons sal maar moet sien hoe lank die papier wel heel bly.
Terug by die plaas en winkel. By die laaste Playball les Donderdag is een van die speletjies om die “boer” se “wortels” te steel. Die juffrou wil toe eers weet waar kom wortels vandaan. Dadelik kom die antwoord van ons knaap: “die plaas”. Die juffrou was woes beïndruk. Blykbaar is hy die eerste een die week wat nie “winkel” geantwoord het nie. Vyf-jariges is duidelik nog onder die indruk dat alles van die winkel af kom. Miskien moet die kleuterskole dink aan ‘n plaas uitstappie vir die klomp dorpsjapies. Dankie vir ouma met haar groente tuin. As dit nie vir dit was nie het die knaap dalk ook winkel geantwoord!