Manlief moes onlangs vir werk laeveld toe. Na ‘n nag in die wildtuin kry ek die e-pos:
“Ons het gister oggend lekker gelag vir die wild daar in die kamp. Een tarentaal het van ons koue pap in die hande gekry, en huppel toe heel in sy noppies daar weg. Min weet hy dat ‘n kleinerige blou aap hom gewaar het, en dat die hom toe agterna sit… Met so ‘n blindekant-duikslag sien jy net tarentaalvere, pap en stof trek, soos wat die aap die tarentaal aan sy nek grond toe ry en toe sy pap steel! Tarentaal se kind het dit nie sien kom nie. Die blou-aap kan bly wees ons bokafrigter het hom nie gesien nie, anders moes hy dalk as ‘geheime wapen’ uitdraf in die volgende
wedstryd teen die All Blacks.”
Natuurlik het ek te lekker gelag. Dit het my laat dink aan ‘n aand wat ons saam met die familie gebraai het. ‘n Ruk na ete kom ons knaap weer vleis soek. Hy is immers altyd nog honger en sal seker nog sy oogtande eendag ruil vir net nog een stukkie vleis. Ouma gee toe vir hom ‘n hele stuk steak in die hand. Hy het egter nie baie ver gevorder voor een van die honde die kans uit ‘n miljoen raak gesien het en die hele stuk vleis uit sy hand gegaps het nie. Onnodig om te sê het die moeë knaap sy poppe uit sy pram gegooi! Ouma moes nog ‘n stuk vleis afstaan. Die keer het hy egter heel tyd met die stuk vleis bo sy kop rond geloop om seker te maak dit word nie weer gegaps nie.