7

Tannie Anna kombers

20 February 2012
Share

Ek hou daarvan om ‘n kombers hier op die kantlyn te hê waaraan ek kan werk. Daar is altyd so ‘n stilte tussen die ander projekte deur en dan is dit lekker om ‘n deur lopende projek te hê. Ek kan die dan net optel en gou bietjie werk.

Ek was egter lus vir iets anders. Ek ontdek toe een van my eie babakomberse waarin ek nog gedoop is en besluit ek gaan die patroon aanpak. Dit is iets besonders. Die kombers is jare terug nog deur my tannie Annalize Schreuder gehekel. Na haar beroerte sal sy nooit weer so ‘n kombers kan aanpak nie. Ek deel dus graag met julle die patroon.

Ek gebruik baba wol en ‘n 3mm hekelnaald. Die kombers is ongeveer 80cm breed. Jy kan dit dan so lank maak soos wat jy wil. Ek skat ek gaan so 300g baba wol nodig hê om myne klaar te maak.

Steke nodig:

ks – kettingsteek (chain)

lb – langbeen (dc (US) of tr (UK))

kb – kortbeen (sc (US) of dc (UK))

4lb-tr – Maak ‘n langbeen, maar trek net die wol deur die eerste 2 drade (los die laaste 2 op), maak die volgende 3 lang bene op dieselfde manier. Jy sal nou nog 5 drade op die naald hê. Trek nou die wol deur al 5 drade.

Patroon:

1) 192 ks

2) kb in elke ks

3) 1 ks , 1kb, *3ks, mis 2kb’e, kb in volgende kb* (herhaal * tot* tot laaste 2kb’e, kb in laaste 2kb’e

4) 3 ks, lb, *3 ks, kb in eerste 3 ks spasie, 3 ks, 4lb-tr in volgende 3 ks spasie * (herhaal * tot * tot 2de laaste 3 ks spasie), 3 ks, kb in laaste 3 ks spasie, 3 ks, lb in laaste 2 kb’e

5) 1 ks, 1 kb, 3 ks, mis eerste 3 ks spasie, kb in volgende 3 ks spasie, * 3 ks, kb in 3 ks spasie* (herhaal * tot * tot 2de laaste 3 ks spasie), 3 ks, mis laaste 3ks spasie, kb in laaste 2 lb’e

Herhaal ry 4 en 5 (eindig met ry 5) tot jy die verlangde lengte kombers het.

Eindig met 3 kb in elke 3 ks spasie.

Heg tossels aan.

Die patroon is so mooi dat jy dit as ‘n randjie ook kan gebruik.

As jy dit natuurlik nie self kan/wil hekel nie, kan jy altyd een bestel.

Vir die Engels van die patroon gaan loer in by www.powerfulmothering.com/how-to-crochet-a-baby-blanket/