9 April 2012
Share

Ons het ‘n ruk terug besluit dat die kinders nie meer mag TV kyk in die week nie. Nie dat hulle heeldag voor die TV gelê het nie, maar ek kan net nie sien hoekom hulle enigsins TV hoef te kyk nie. Ek het gedink dit sou baie drama veroorsaak het, maar toe nou nie. Die eerste dag het hulle ‘n paar keer kom vra of hulle mag TV kyk. Teen die tweede dag het Ellard sommer vir Salomie geantwoord toe sy vra vir TV, “Dis nie naweek nie”.

Die vierde dag was die grootste uitdaging. Dis asof die twee skielik TV onttrekking simptome gekry het. Hulle was net onmoontlik en sommer vies dat hulle nie mag TV kyk nie. Maar daarna was die stryd gewen.

My tydsberekening was seker nie van die beste nie. Dit was kort voor hulle partytjie en ek het tonne goed gehad om te doen. Die eerste maand sonder TV in die week is verby.

Verbasend genoeg kyk hulle nou selfs op naweke min TV. Solank hulle een of twee keer vir Shaun gekyk het is hulle dood gelukkig. Dit maak my hart sommer baie bly.

Die resultate van die uitstappie het my nogal verras. Nou word hier eers ‘n hond uit ‘n bos gespeel. Die verbeeldingspel wat altyd volop was is nou sommer baie GROOT. Die buite tafel is enige iets van ‘n boot as daar “vloede” is tot ‘n bus of vliegtuig. Daar word boom geklim en eekhorings gejag.

Teen laat middag is die twee rakkers gedaan gespeel! Die eerste week of wat het Salomie sommer voor ete al op die bank aan die slaap geraak. Nou kan hulle egter nie wag om net na 7 te gaan storie lees en slaap nie. En beste van alles hulle slaap beter.

Die probleem kom egter soos altyd wanneer ons by die niggies en nefie gaan kuier. Tydens die kuiers word daar omtrent net TV gekyk en niks gespeel nie. Dit verbaas my altyd dat jy 6 kinders kan saam gooi en dan speel hulle nie met mekaar nie!

Dis altyd ‘n storie om iets te kry wat my 2 nie gaan ontstel nie, maar ten spyte daarvan slaag ek amper nooit daarin nie. Ek het nou al so mooi gepraat dat hulle nie daar moet TV kyk nie, maar hoe gemaak as die ander 4 voor die TV lê?

Ek het Vrydag gedink Winnie the Pooh is seker ‘n veilige keuse (beter as Tangled ens). Wel toe nou ook nie. Die aand is ons bul so bang dat hy nie na badtyd sy eie klere in die kamer wil gaan haal nie. Ek moet saam. En nie eers dit help nie. Hy wil nie self iets uit die kas haal nie, want die ding is in sy kas. En later onder sy bed. Blykbaar was daar ‘n “Imaginary” ding wat almal se goed in die storie gesteel het. Een met horings en hare. En so vang die swerkaters ons kinders (so heel “onskuldig”).

Ek smyt sommer die TV en al die DVD’s weg en belet hulle om by maatjies te gaan speel waar daar TV gekyk word! Is die doel van maatjies nie in elk geval  om te speel nie?