0

Kuier gas

9 April 2012
Share

Saterdag oggend bel ‘n vriendin. Hulle sit met ‘n katjie wat die vorige dag by hulle opgedaag het en is op pad weg vir die naweek. Hoe nou gemaak met die rondloper katjie? Uiteinde is dat die katjie vir die naweek by ons kom kuier terwyl ons probeer uitvind waar sy huis is.

Natuurlik is die kinders vreeslik opgewonde. Ellard kerm nou al lankal vir ‘n kat en nou kom een kuier! Die katsandbak word uit gehaal en Jaco moet stop vir katsand en -kos. Tressa is minder beïndruk. Katte is nie juis een van haar gunsteling dinge nie (Al wat erger sou wees is as ons ‘n eekhoring sou oppas).

Gelukkig is sy ‘n gehoorsame hond en verdra maar die viervoetige indringer so gedwee as moontlik. Die katjie voel nie heeltemal dieselfde nie. Maar so lank die 2 ‘n veilige afstand hou, is albei gelukkig.

Saterdag word hier dus ‘n hond uit ‘n bos gespeel (en ons herontdek die betekenis van kattekwaad). Die katjie, seker so 3 / 4 maande oud, is reg vir aksie. Hy speel die kinders op. Ellard is in die wolke. Hy laat die karre resies jaag en die katjie bespring hulle. Hy rol vir hom balle, blokkies (enige iets) en die kat hol agterna. Die gemmerkat is ideaal vir kinders (ek hoop sy eienaars het kinders!). Hy gaan waar ook al hulle gaan. Selfs al beteken dit dat hy saam met hulle in die reën moet speel.

Ellard kom later in die kombuis in. “Kom ons noem hom Kittie Kat Miaau Lekker Speel”. Wat ‘n naam! Is dit nie bietjie lank nie? “Ok, wat dan van Kittie kat Lekker speel?”. Ek lag te lekker. Ons bly toe maar by Kittie of Miaauie.

Saterdagnag slaap kat se kind in die gastekamer. Hy was nog te vol speel toe dit slapenstyd was. Ons sou nooit die kinders saam met hom aan die slaap kon kry nie. Daarby was ek bang hulle skrik as hy in die nag dalk ‘n draai loop. Sondag oggend toe die twee rakkers hulle oë oop maak wil hulle weet waar is die kat? Hulle fyn kamp die kamer en is verheug toe ek hulle roep om hom in die gastekamer te gaan haal. Dis ‘n geprrr en lyf skuur en toe net speel-speel-speel!

En toe kom die oproep. Ons is so bly julle het ons katjie gekry! Die kinders is skoon bedruk. Kittie moet huis toe gaan. Net na 10 kom haal hulle toe vir Kittie (wat toe eintlik Luca is en hier op Middelvlei bly). Die atmosfeer is beswaard. Ellard maar sommer ‘n bed onder hul boekrak en gaan lê daar. Salomie huil vir alles en wil net skoot sit. Gelukkig het Pappa ‘n plan. Ons gaan Akwarium toe!

Vanoggend besluit die Bul ons moet maar ‘n katjie kry. Ons het mos nou al al die goed vir ‘n katjie! Tressa het darem ook punte by gekry. Blykbaar luister sy beter. “Katte is stout, hulle luister glad nie”.