Laas jaar het ek vir ons Pop ‘n blou toppie gehekel (My eerste aanpassing van ‘n patroon). Dit was die eerste klere wat ek vir die twee gemaak het. Toe het my eerste eie skepping, 2 “jassies” gevolg, ‘n bonte en ‘n perse. Dis eintlik die bont jassie wat die begin was van Lomi Creations en die blad. Sien die PlayBall juffrou het die gesien en wou toe ook een hê. Dit het my aan die dink gesit en nou hekel ek te lekker vir enige iemand wat ietsie anders wil hê.
Daar dwaal ek heel van die punt af. Omdat ons Pop so mal was oor haar blou toppie en dit die somer so baie gedra het het ek besluit om vir haar ‘n rokkie te hekel vir die winter. Wel die waarheid is dat sy self die wol in my mandjie gelaai het op een van my wol inkopie sessies. Aanvanklik sou dit ‘n trui word, maar na ek op die patroon afgekom het moes ek dit net maak. Nie dat ek heel by die patroon gehou het nie. Die bo-stuk is vir die 3-6maande opsie (ek het gou besef al het ek ‘n dunner naald en wol gebruik was myne baie groter as wat die patroon gesê het dit gaan wees)
(En voor iemand vra, nee, dis nie pienk nie, al lyk die foto bedrieglik. Dis iets tussen maroen en pers)
Die rokkie het so oulik gelyk dat ek net nog iets vir haar moes maak. Die keer het ek nuwe steke probeer wat my skoonma se ma glo altyd baie lief was om te gebruik. Daarby het ek sommer my eie kop gevolg. Wonder bo wonder was die eindproduk heel oulik (en is nou haar nuwe gunsteling)
Natuurlik moet die oor-rokkie toe ‘n serp by kry.
My probleem bly egter dat ou boet heel afgeskeep voel. Die knaap wil egter niks van ‘n trui weet nie (duidelik te veel gene van sy pa geërf, wat ook truie haat). Ek wou vir hom ‘n sagtespeelding hekel, maar die gaan blykbaar nie self kan ry nie. Laas jaar het ek vir hom ‘n kombers gehekel (waaroor hy mal is), maar die jaar krap ek nog kop.
Ek kon darem vir hom ‘n mooi mus maak. Alles in blou, want die is sy nuwe gunsteling kleur. Ek het probeer om ‘n bakkie daarop te maak, maar hy het besluit dit lyk eerder soos ‘n storttrok en is heel beïndruk.
Daarby het sussa toe uiteindelik die mus gekry waarvoor sy nou al heel somer gevra het.
Een ding wat ek wel wys geword het is dat ek hekel soos wat ek kook/bak. Ek moet altyd karring aan die resep (patroon). Ek het net nie die vermoeë om iets te maak net soos wat hulle sê jy dit moet doen nie. Gelukkig was darem nog sover aan my kant!
Dis baie oulik!!
Baie dankie, Krista