2

Agtpote

8 May 2012
Share

Saam met die voorreg om oorkant ‘n park te bly kom ook ‘n paar vier-, ses- en agtpotige vriende. ‘n Spitsmuis het al vir hope middernagtelike pret gesorg en ons hoor gereeld sy maters in die tuin. Die molle maak dit onmoontlik om ‘n groentetuin te vestig. Eekhorings is gek daaroor om vir Tressa uit die bome te terg (en al ons vrugte te steel). En ‘n Verkleurmannetjie maak so af en toe sy verskyning. Die kinders is egter mal oor hulle almal.

Van die minder welkome gaste het egter agtpote. Die “reënspinnekoppe” soos ons hulle noem (ek sal nie my kop op ‘n blok sit dat dit wel is wat hulle is nie), kom maak dikwels ‘n draai. Gewoonlik waar jy hulle die minste verwag, soos agter die koffiemasjien of in jou klerekas.

Ons het al ‘n permanente ziploc bakkie om hulle in te vang en weer terug te gaan sit in die park. Ek is seker die agtvoetige vriende is gewoonlik erg getraumatiseerd, want klein vingertjies kan die bakkie net nie uitlos nie.

Een Sondagmôre ontdek die kinders toe een teen die CD-kas se glas. Ek het die bakkie uit, maar die kalant was glad nie geneë met die gedagte nie. Hy besluit toe spring is die beste opsie. Natuurlik beteken dit dat ek half in die pad is. Gelukkig is die landing net langs my voet (en nie op my nie!). My ontsnappings roete stem egter ooreen met syne.

Onnodig om te sê het dit gelyk soos ‘n toneel uit ‘n film – daai tipiese een van die vrou en die muis. Binne ‘n sprong of twee en ‘n gil of drie is ek bo-op die bank. Die kinders giggel hulle dood van hulle bank af – hulle is immers veilig. Ons hond kom ingestorm. Sy kan glad nie besluit of dit ‘n ernstige saak is of nie. Mamma gil, maar die kinders lag.

Die “groot bedreiging” is salig onbewus van die intrige en is besig om ‘n nuwe skuilplek teen die muur te vind. Hy moes dalk ‘n raps beter weg gekruip het, want nadat my hartklop bedaar het, is hy sommer in ‘n japtrap gevang.

Een van die agtpoot se vriende (ja, in die laaste maand was hier al 5 in ons huis) – En vir die nuuskieriges hier is so bietjie meer inligting oor die gaste van ons: http://en.wikipedia.org/wiki/Palystes_superciliosus, moet se ek is minder beindruk nou dat ek weet hulle word reënspinnekoppe of  akkedisvretendespinnekoppe genoem en vang graag geitjies (wat baie welkomer gaste in ons huis is).