2

Goue nektar

26 May 2012
Share

Heuning is heerlik soet en het hope gesondheids voordel, maar waarom behoort jy dit nie vir jou baba te gee nie. En wat is Botulisme?

Heuning bestaan uit verskeie suikers en ander komponente. Die koolhidrate is hoofsaaklik fruktose, (ongeveer 38.5%) en glukose (ongeveer 31%). Dit bevat verder maltose, sukrose en ander komplekse koolhidrate. Heuning bevat ook klein hoeveelhede van ‘n wye verskeidenheid vitamines en minerale, onder andere vitamien B2, B3 en B5, kalsium, koper, yster, magnesium, mangaan, fosfor (phosphorus), kalium en sink. Rou heuning bevat ook stuifmeel en ensieme.

Dis egter belangrik om te weet dat heuning rou, gepasteuriseerd of bestraal/geraduriseerd verkoop word. Bestraalde heuning bevat gewoonlik die woorde “Irradiated” of “Radurised” op die etiket. Rou heuning bevat die meeste gesondheidsvoordele, maar daar bestaan ook die risiko dat dit die bakterie Clostridium botulinum, wat Botulisme veroorsaak, kan bevat. Pasteurisering en bestraling vernietig wel die bakterie, maar verniet ook in die proses van die voedings waarde van die heuning, verminder ensiem aktiwiteit en verander die kleur, geur en smaak van die heuning.

Hope gesondheidsvoordele

Vir ten minste 2700 jaar word heuning al gebruik om ‘n verskeidenheid siektes te behandel. Dit sluit ook die aanwending van heuning op die vel in. Dis egter eers onlangs dat die antiseptiese en antibakteriele eienskappe van heuning duidelik geword het. Heuning het ongelooflike baie gesondheidsvoordele. Om net ‘n paar te noem:

* Heuning word vir eeue al gebruik vir die behandeling van ‘n seer keel en hoes, en onlangse studies het bevestig dat dit hoes kan streel.

* Sekere studies dui daarop dat plaaslik aanwendings van heuning slegte reuke, swelsel en letsels kan verminder. Dit kan ook gebruik word om te voorkom dat die verbande aan die wond plak

* Stuifmeel wat deur die bye versamel is het ‘n anti-allergeniese effek wat allergiese reaksies verminder. Plaaslike heuning kan dus gebruik word deur mense wat hooikoors kry om simptome te verlig. Daar bestaan wel ‘n potensiële risiko om in anafilakties skok te gaan.

* Heuning kan die tyd wat dit neem vir ‘n brandwond om te genees met tot 4 dae verminder

* Die eet van heuning het nie so ‘n drastiese effek op bloedsuiker vlakke soos verfynde suiker nie en lei ook nie tot die gewigstoename soos met rietsuiker nie. Verfynde suiker het ook geen voedingswaarde en put die liggaam se bronne van vitamines en minerale uit. Heuning moet egter steeds net in matigheid gebruik word.

* Heuning is ook ‘n ligte lakseer middel

* Die natuurlike ensieme wat in heuning voorkom help om die druk op ons liggame te verminder om self die ensieme te vervaardig om die kos te verteer.

* Kliniese waarnemings het ook gevind dat heuning effektief is vir die behandeling van insekbyte, gis infeksies, vel toestande soos ekseem en psoriase, en fungus infeksies soos omlope en voetskimmel

* Ottawa Universiteit dokters het gevind dat heuning bakterie dood maak wat sinus infeksies veroorsaak. Die heuning het selfs beter gevaar as antibiotika. Hulle het spesifiek na manuka heuning uit Nieu Seeland en sidr heuning uit Jemen gekyk. Die 2 tipes heuning het alle bakterie in vloeistof en 63 – 91 % op biofilms dood gemaak. (Biofilms is mikro organismes wat somtyds ‘n beskermende lagie in sinus holtes, urineweë, kateders en hart kleppe vorm wat die bakterie beskerm teen normale medisyne. Dit lei dikwels tot kroniese infeksies). Die effektiefste antibiotika, rifampin, kon slegs 18% van die biofilm monsters in die toets dood maak.

* Sekere wond jel bevat anti-bakteriele rou heuning en is medies goedgekeur vir die behandeling van medisyne weerstandige bakterie soos Methicillin weerstandige Staphylococcus aureus.

* Dit is ook antisepties as dit op verbande aangewend word.

* Aangewende heuning is al suksesvol gebruik in die behandeling van diabetiese oop sere wanneer die pasiënte nie antibiotika kan aanwend nie.

* Die relatiewe suur pH vlakke van heuning voorkom die groei van baie bakterie.

* Die anti-oksidante in heuning kan die skade in die kolon as gevolg van Colitis verminder.

Boksie inligting: Rou, suiwer heuning bevat by-stuifmeel wat 22 aminosure, 27 minerale en ‘n spektrum van vitamines bevat. Rou heuning bevat ook meer as 5000 ensieme insluitende amilase, ‘n ensiem wat help met die vertering van koolhidrate.

Baba Botulisme

Ongelukkig saam met al die goeie, kom die risiko van Botulisme in babas. Baba botulisme is baie raar, maar dis ‘n baie ernstige siekte wat die senuwee stelsel affekteer. Heuning en ander rou landbou produkte kan spore van die bakterie (Clostridium botulinum) bevat wat botulisme veroorsaak. Kinders onder 12 maande het nog nie genoeg maagsuur om die spore van die bakterie te vernietig nie. Hulle behoort dus nie rou heuning te eet nie. Dis egter ook belangrik om kos wat rou heuning bevat te vermy soos koekies, ontbytgraan en brood. Al is die heuning in die kos verwerk is dit nie noodwendig gepasteuriseer nie.

Dit kan ook skadelik wees vir swangervroue, vroue wat borsvoed en die groeiende fetus. Heuning wat egter bestraal is (soos meeste op ons winkelrakke) is veilig om vir babas, swanger- en borsvoedende vroue te gee.

Heuning was egter vroeër slegs die oorsaak van 1 uit 5 gevalle van baba botulisme. Vandat waarskuwings uitgegee is dat heuning botulisme kan veroorsaak het die getal gevalle wat deur heuning veroorsaak word gedaal tot slegs 1 uit elke 20 gevalle. Meeste gevalle is deesdae as gevolg van natuurlike blootstelling aan C. Botulinum spore. Die spore kom in grond voor en dikwels kom baba botulisme voor waar mense naby ‘n konstruksie area of area waar grond versteur word bly.

C. botulinum kan ook voorkom in tuis gepreserveerde kos en ongekookte gefermenteerde disse. Dit neem 3 tot 5 dae voor die simptome begin. Tipiese simptome van baba botulisme is hardlywigheid, lomerigheid, swakheid, swak voeding en ‘n verandering in baba se huil wat dikwels gevolg word deur slap verlamming. Babas kan ook ophou asemhaal.

Voorkoming

Nie net babas kan botulisme kry nie. Kinders en volwassenes kan dit ook kry deur kos, stof of wonde. Die botulisme toksiene word wel vernietig deur kos goed te kook vir ‘n paar minute, maar die spore word nie vernietig nie. Die spore vermeerder en produseer weer die toksiene, sodra toestande gunstig is. Die enigste manier om baba botulisme te voorkom is deur heuning die eerste 12 maande te vermy.

Geblikte kos word wel behandel teen 121°C vir 3 minute wat die voorkoms van botulisme baie skaars maak. Tog is dit belangrik om nie blikkies kos te eet wat uitswel nie. Blikkies wat ook beskadig of geroes is en gaatjies bevat moet eerder weggegooi word.

Botulisme kom makliker voor in tuis gepreserveerde kos met ‘n lae suur inhoud, soos wortelsap, aspersies, groen boontjies, beet en mielies. Ander bronne van infeksies sluit in knoffel of kruie wat met olie bedek is, warm rissies, aartappels in aluminium foelie gebak (wat nie baie warm voorgesit of dadelike in die yskas geplaas is nie), tamaties en gepreserveerde of gefermenteerde vis. Olie treksels met knoffel of kruie moet aangesuur word en in die yskas gebêre word. Tuis gepreserveerde kos moet ook verkieslik vir 20 minute lank gekook word voor dit geëet word.

Bronne:

www.nutritionist.co.za/ag3nt/system/product.php?prod_id=579

http://en.wikipedia.org/wiki/Honey

www.nutritionist.co.za/ag3nt/system/product.php?prod_id=770

www.wellness.com/reference/food/honey/dosing-and-safety

www.health-benefits-of-honey.com/babies-and-honey.html

http://en.wikipedia.org/wiki/Botulism

www.benefits-of-honey.com/antibiotic.html

www.brisbanetimes.com.au/news/life-and-style/honey-to-replace-ntibiotics/2008/09/25/1222217368341.html