My twee woelwaters is besig om te vinnig groot te word. Ek sien dit veral in al hulle speletjies. Hulle gunsteling twee dinge is op die oomblik boom-klim en mamma-en-pappa speel. Ek weet deesdae nooit meer of hulle my roep of besig is met die speletjie nie.
Die boom klimmery hou my nogal op my knieë. Daar is egter nie ‘n boom in die erf wat hulle nog nie in rond geklouter het nie. Van die bome lyk ook nie meer te wel na die geklouter nie. En hulle idee van ‘n dik tak is nie juis my idee daarvan nie!
Hier word darem ook nie net buite gespeel nie – en ek is seker met die nat winter om die draai gaan hier al meer binne gespeel word. Ellard raak regtig oulik met al die Smile goedjies. Hy bou prentjies met die vorms en kan al mooi patrone voltooi. Natuurlik voel hy baie trots daaroor.
Salomie bou graag prentjies op die “pegboard”. Gister het sy egter besluit sy gaan eerder “ice-creams” maak met die pegs en blou Otees. Sy het ‘n hele bakkie vol Otees op die manier opgeëet.
Die knaap begin dit ook deesdae geniet om in te kleur (maar ook net wanneer dit hom pas). Sy geduld met die stil sit en binne die lyne in kleur het werklik baie toe geneem. En hy geniet dit ook baie om te teken. Meestal is dit reënboë of karre/4×4’s. Die ander dag het hy wel ‘n koning geteken – net omdat hy oortuig was dat hy dit beter kon doen as ‘n maatjie wat ‘n koningin geteken het.
Salomie is mal oor teken en inkleur. Net nog ‘n duidelike verskil tussen dogtertjies en seuntjies. Sy sal vir ure kan sit en skribbel. Dikwels is haar prente net ‘n gekrap en dan elke nou en dan verbaas sy mens met iets wat werklik al lyk soos wat sy wou teken.