Soveel paartjies wat graag swanger wil raak is onbewus dat daar sommige mites rondom ovulasie en veral wanneer dit plaasvind bestaan. Deur vas te stel wanneer jy werklik ovuleer kan jy jou kanse op bevrugting verhoog.
Elke maand is daar net ‘n klein tydperk waarin jy kan swanger raak – gewoonlik nie langer as 4 dae nie. Dit is die tyd net voor en op ovulasie. Elke maand word 15 tot 20 eiers in een van jou ovariums ryp. Die grootste een word vrygestel in jou fallopiaanse buis. Eenvoudig gestel is ovulasie die proses wat lei tot die vrystelling van 1 eier (soms meer).
Die eier oorleef net vir 12 tot 24 uur as dit nie bevrug word nie. Sperm aan die ander kant kan tot 7 dae oorleef (alhoewel 3 dae meer haalbaar is). Dit is hoekom dit belangrik is om omgang te hê iewers in die vrugbare paar dae voor ovulasie.
Die maklikste manier om te verseker dat daar altyd gesonde sperm in die fallopiaanse buise is wanneer ‘n eier vrygestel word, is om elke 2 tot 3 dae intiem te verkeer gedurende jou siklus. Op die manier maak dit nie saak wanneer jy ovuleer nie. Dit is egter nie altyd moontlik nie.
Daar is verskeie redes waarom ‘n vrou sou verkies om te weet wanneer haar vrugbare periode is:
• As een of albei van die paartjie gereeld weg van die huis af werk.
• Besige skedules en die versorging van kinders kan veroorsaak dat omgang elke twee tot drie dae later ook soos werk voel.
• ‘n Ongereelde siklus kan bevrugting baie moeilik maak.
• Vermoedens dat jy dalk glad nie ovuleer nie kan jy tuis ondersoek voor jy vir hulp gaan aanklop by ‘n ginekoloog.
Die twee dele van die ovulasie siklus
Ovulasie is die gebeurtenis wat jou siklus bepaal. Die tyd voor ovulasie word die follikulêre fase genoem. Die follikulêre fase begin op die eerste dag van jou laaste periode en hou aan tot en met ovulasie. Die eerste helfte van die siklus kan baie verskil vir elke vrou en kan tussen 7 en 40 dae wees.
Tydens ‘n “gemiddelde” 28 dag siklus kan ovulasie verwag word tussen dag 13 en 15 van jou siklus. Op hierdie grondslag word vroue dikwels ingelig om ovulasie op dag 14 te verwag. Baie vroue het egter nie ‘n gemiddelde siklus nie en selfs die wat het, kan met tye veranderinge sien. Meeste vroue ovuleer in werklikheid tussen dag 11 en 21 van hul siklus.
Die tweede helfte van die siklus is die luteale fase en is vanaf die dag van ovulasie tot en met jou volgende periode. Die fase is gewoonlik nie so wispelturig soos die eerste fase nie. Dit is gewoonlik tussen 12 en 16 dae lank. Dit beteken ook dat dinge soos stres, siekte en verandering in jou roetine ovulasie kan beïnvloed, maar gewoonlik nie die luteale fase nie. Stres kan dus jou ovulasie datum beïnvloed, maar stres rondom die tyd wat jy jou volgende periode verwag kan nie jou luteale fase langer maak nie.
Die lengte van jou luteale fase het egter ook ‘n invloed op jou vrugbaarheid. ‘n Baie kort luteale fase van minder as 10 dae kan beteken dat daar nie genoeg tyd is vir progesteroon vlakke om te styg na bevrugting, om die afbreek van die baarmoederwand te voorkom nie. En dit lei dus in effek tot ‘n baie vroeë miskraam as bevrugting wel plaas gevind het. As die periode te kort is gaan jy waarskynlik mediese hulp nodig hê om ‘n swangerskap te behou.
Deur te weet wanneer jy ovuleer kan julle vasstel of julle op die mees vrugbare tyd omgang gehad het. Jy kan ook die lengte van jou luteale fase vasstel. Deur dit te weet, help dit jou om te weet wanneer om jou volgende periode of ‘n positiewe swangerskap toets te verwag.
Volgens die “American Society for Reproductive Medicine” is die tipiese menstruasie siklus tussen 21 en 35 dae. Party vroue het selfs korter en langer siklusse as dit. Ovulasie kan dan baie vroeër of later as die riglyne voorkom. As ‘n voorbeeld, ovulasie kan op dag 23 voorkom van ‘n 35 dae siklus as die vrou ‘n 12 dag luteale fase het, terwyl dit weer op dag 10 kan voorkom van ‘n vrou wat ‘n 24 dag siklus het en ‘n luteale fase van 14 dae. Die variasie beteken dat daar nie werklik ‘n eenvoudige antwoord is vir wanneer om ovulasie te verwag nie. Dit is egter moontlik om vas te stel wanneer jy ovuleer en wanneer jy die vrugbaarste is.
Jy kan jou ovulasie datum en tye van piek vrugbaarheid vasstel deur jou vrugbaarheidstekens aan te teken. Ons liggaam het tekens om ons attent te maak daarop dat ovulasie nader kom en vertel vir ons wanneer dit verby is. Daar is ook toetse beskikbaar om ovulasie te voorspel soos die Ovulasie toets (soortgelyk aan ‘n swangerskap urine toets) en vrugbaarheidsmonitors wat toets vir die voorkoms van estrogeen en luteïniserende hormone in jou urine en speeksel.
Algemene tekens van ovulasie in meeste vroue is:
- Verandering in serviks vloeistof. Jou vaginale afskeiding word taai en lyk soos eierwit naby ovulasie. Elke vrou se afskeiding verskil egter. Dit is dus belangrik om op te let hoe joune verander tydens jou siklus. Ovulasie vind gewoonlik plaas op die dag waarop die meeste afskeiding plaasvind.
- Verandering in basale liggaam temperatuur. In meeste vroue sal jy voor ovulasie ‘n relatiewe konstante basale liggaam temperatuur (Dit is die jou liggaamstemperatuur eerste ding soggens, voor jy opstaan) sien. Soos ovulasie nader kom kan jy ‘n effense laer temperatuur sien wat gevolg word met ‘n skielike styging na ovulasie. Die toename in temperatuur dui daarop dat ovulasie plaas gevind het. Dit kan egter tot 2 dae neem vir die toename om plaas te vind.
- Verandering in serviks posisie en fermheid. Die serviks verander as ‘n vrou ovuleer. Duidelike tekens van ovulasie is dat die serviks sag, hoog, oop en nat word. Dit neem meeste vroue egter ‘n tydjie om te leer wat die verskil in haar serviks is tydens ovulasie en andersins.
Inligtings boksie: Aanlyn is daar verskeie webwerwe met meer inligting hoe om die vrugbaarmakendstekens te monitor en aan te teken. Een hier van is http://www.fertilityfriend.com/
Sekondêre tekens van ovulasie
Daar is ook ander tekens van ovulasie. Hierdie tekens kom egter nie konstant of by alle vroue voor nie. Dit sluit in:
- Ligte deurbraak bloeding
- Ligte krampe of pyn aan die eenkant van die pelvis rondom die eierstok. Ongeveer 1 uit 5 vroue ervaar dit
- Teer borste
- Opgeblaasdheid
- Toename in seksdrang
- Verhoogde sin vir reuk, smaak of sig
Inligtings boksie
- Meeste vroue het ‘n 15 – 30% kans om elke siklus swanger te raak as hulle nie voorbehoeding gebruik nie
- Ongeveer 60% van paartjies raak swanger binne die eerste 6 maande
- Ongeveer 85 % van paartjies raak swanger binne 1 jaar sonder voorbehoeding
- Omtrent helfte van die vroue wat nie binne die eerste jaar swanger raak nie raak in die 2de jaar swanger
- En ‘n verdere 1% raak in die 3de jaar swanger
- Ongeveer 7% van paartjies raak nie binne die eerste 3 jaar swanger nie.
- Die syfers neem egter drasties af met ouderdom. Teen 38 is slegs 77% van paartjies binne 3 jaar swanger.
Ovulasie feite:
– ‘n Eier lewe vir 12 – 24 uur na ovulasie
– Ovulasie kan beïnvloed word deur stres of siekte
– Ovulasie vind gewoonlik tussen dag 11 en 21 plaas
– Gewoonlik word net 1 eier tydens ovulasie vrygestel
– Elke vrou word met miljoene eiers gebore
– Jy kan menstrueer al het jy nie geovuleer nie
– Party vroue kan ligte pyn naby hul ovaria voel tydens ovulasie – dit word mittelschmerz (Duits vir middel pyn) genoem
– As ‘n eier nie bevrug word nie, disintegreer dit en word in die baarmoederwand geabsorbeer.
Bronne:
www.babyhopes.com/ovulation-calendar.html
www.babycenter.com/0_detecting-ovulation_484.bc
www.babycenter.com/chart-basal-body-temperature-and-cervical-mucus
www.fertilityfriend.com/Faqs/Ovulation.html
www.americanpregnancy.org/gettingpregnant/understandingovulation.html
www.americanpregnancy.org/gettingpregnant/signsovulation.html
www.babycentre.co.uk/preconception/activelytrying/ageandfertility/
www.babycentre.co.uk/preconception/activelytrying/howlongwillittake/
hi dis baie intersant om alles te kan leer en lees.
Ek wil graag weet of dit moontlik is om swanger te raak terwyl mens borsvoed.
Ek en my man is al baie lank bymekaar en 2 jaar terug het ek geboorte gegee aan die mooiste dogtertjie. ek gebruik steeds nie voorbehoedmiddels nie en het nogi weer swanger geraal nie. met die eerste ene het ons baie lang gesukkel ook, maar ook niks gebruik nie.
Uit ondervinding kan ek vir jou se, ja, dit is moontlik om swanger te raak terwyl jy borsvoed 😉
Eksklusiewe borsvoeding tot op 6 maande (dus as jy geen byvoeding of ander kos gee nie) word gesien as net so ‘n goeie voorbehoedmiddel as die pil. Dit beteken ook nie dat jy glad nie kan/sal swanger raak nie, net dat daar ‘n baie klein kans is.
Baie vroue word wel swanger, terwyl hulle borsvoed. Ander moet egter eers ophou borsvoed om swanger te raak. Dit hang van persoon tot persoon af. As jou siklus weer gereeld is en julle steeds nie swanger raak nie, is dit dalk ‘n plan om daarna te laat kyk. Ongelukkig sukkel baie vroue met sekondêre infertiliteit (dis wanneer jy na ‘n eerste swangerskap sukkel om weer swanger te raak).
Ek en my man het besluit om n gesinnetjie te begin. Ek is 31 en my man 43. Ons wil so graag n babatjie saam he. My laaste menstruasie siklus was die 24ste Februarie tot die 28ste Februarie. Ek is gewoonlik net 5 dae. Ons het die 7de Maart 2013 besluit om dit te probeer. Ons het omterent elke aand probeer. Vandag die 24ste Maart 2013 het ek weer met my menstruasie begin, groot teleurstelling, nou weet ek ek is nie swanger nie. Ek weet nie regtig nou wanneer is die beste tyd om weer te probeer nie. Kan jy dalk nir my raad gee asb.
Nadia, die belangrikste is om moed te hou. Dit neem die gemiddelde paartjie 12 maande om swanger te raak. Daar is dus nie noodwendig enige iets fout nie. Indien jou siklus gereeld is kan julle dit gerus ‘n paar maande kans gee. As jy egter nie ‘n gereelde siklus het nie, sal ‘n ginekoloog waarskynlik vir julle antwoorde hê.
Soos ek in die artikel gesê het is die beste om elke 2/3 dae intiem te wees. Op die manier weet jy daar is altyd sperm beskikbaar as ‘n eier vrygestel word. Deur meer gereeld intiem te verkeer kan dit ‘n negatiewe uitwerking hê op jou man se spermtelling. Ek weet egter dat dit nie altyd moontlik is om op ‘n skedule te “werk” nie. As jy onseker is oor wanneer jy ovuleer kan jy werklik baat by iets soos http://www.fertilityfriend.com. Dit neem egter ‘n paar siklusse om jou eie siklus te leer ken. En alhoewel dit julle kanse kan verhoog deur te weet wanneer om intiem te wees, plaas dit ook baie klem op die hele proses. Dit kan dus ook baie druk op jou plaas en juis al die pret uit die proses haal.
Ontspan, geniet die spesiale tyd en hou moed!
Baie dankie. Ons sal net aanhou oefen. En elke oomblik geniet.
Tot op watter ouderdom is n vrou nog vrugbaar
Albert, Dit verskil van vrou tot vrou en hang van baie faktore af. Dinge soos wanneer haar eerste siklus was, hoeveel swangerskappe sy gehad het, hoe lank sy geborsvoed het ens. Meeste vroue is tot diep in hul 40’tigs nog vrugbaar, sommige selfs nog tot in hul 60’tigs. Terwyl daar ook vroue is wat al in hul laat 20’tigs deur menopaus gaan. Daar is werklik geen manier om te weet hoe lank ‘n vrou vrugbaar gaan wees nie en jy gaan eers die antwoord ken wanneer sy nie meer is nie.
Hi, ek is 37 jaar oud en my man is 44. Ek is baie gesond. My man is ‘n diabeet, het cholesterol en rook baie. Is daar ‘n kans dat ek kan swanger raak?? Ek is al paar jaar van pil af. Ek het ‘n seun wat 14jr oud is en het baie vinnig met hom swanger geraak,was geen probleem nie!
Hi Lanie,
Solank jy nog ‘n siklus het is daar altyd ‘n kans om swanger te raak. Ongelukkig kan jou man se gesondheidstoestand ‘n invloed hê op julle kanse om swanger te raak. Hoe beter hy dit dus kan beheer hoe beter vir julle. Mens kry ook wat genoem word sekondêre infertiliteit. Net omdat jy dus die eerste keer vinnig swanger geraak het beteken nie dat dit weer so gaan wees nie. Ek sou aanbeveel dat julle eerder vroeer as later ‘n afspraak by ‘n ginekoloog maak om seker te maak alles is reg.
Jy mag dalk die volgende nuttig vind:
http://www.babycentre.co.uk/a1813/how-long-will-it-take-to-get-pregnant
http://www.babycentre.co.uk/a3558/diet-for-a-healthy-mum-to-be
http://www.babycentre.co.uk/a564482/dads-to-be-how-your-lifestyle-can-affect-your-fertility
Mag julle sommer gou 2 strepies sien.
Hi ek wil graag weet ek is al 2 mande nie op my tyd nie en ek weet nie wat aan gaan nie ek is glad nie naar nie ook nie duislig nie en ek eet nie baie nie
Skies, Lanie. Ek is heel agter om jou te antwoord. Daar is ‘n hele verskeidenheid redes hoekom jou siklus deur mekaar kan wees. As dit deur mekaar bly gaan maak liefs ‘n draai by ‘n dokter – Veral as julle moontlik probeer om swanger te word.
Hi ek het tans n mirena in wat is die kans om swanger te raak met hom in is al 4 jaar in. Dan kry ek erge hot flush n paar dag en nag is dit dalk n teken van menopouse
Debbie, met die mirena is jou kanse om swanger te raak baie skraal, maar dit gebeur tog soms. Ongelukkig beteken dit dikwels dat die swangerskap natuurlik aborteer as die mirena verwyder word. Die beste is om eerder jou dokter te gaan sien en jou kwellinge met hom te bespreek.
As jy swanger is ovuleer jy dan nogsteeds
Nee, Debbie. Die progesteroon hormoon, wat help om jou baarmoederwand vir die duur van swangerskap te behou, voorkom dat ovulasie plaas vind. Dit is juis om die rede dat vroue wat meer kinders het (en/of lank geborsvoed het) tot later in hul lewe nog vrugbaar is.
Ek het vir die afgelope 2 maande my period gehad wat glad nie dieselfde was as my vorige periods nie. Die keer was dit lig rooi en vir omtrent 3 dae. Glad nie baie nie. Ek bly moeg. Het lae rugpyn en nou en dan duiseligheid. My maag is hard as ek daar op druk. Is winderig en soms hardlywig. Kan dit dalk goeie nuus wees??
Charmaine, hormone is snaakse goed. ‘n Tuistoets sal jou ‘n beter antwoord kan gee. As jy nie swanger is nie sou ek aanbeveel dat jy ‘n afspraak maak by jou dokter.
Hi is 25 en het intiem verkeer 5 dae voor my menestruasie maar het wel bigin waneer ek moes is daar n moontlikheid dat ek nogsteed swanger kan raak?
Lezania, dis baie onwaarskynlik om so laat in jou siklus swanger te raak en jou siklus het dit bevestig. Hormone is egter ‘n snaakse ding en soms kan ovulasie later of vroeër as normaal plaasvind. Die beste raad as jy dus wil swanger raak is om elke 2-3 dae omgang te hê.
Goeie dag.Ek is 5 dae laat met my menstruasie.Het 7 weke terug miskraam gehad.Het die 19 Julie my normale siklus weer gehad en ek moes nou die 16de Augustus weer begin het met my siklus.Ek het n “milky way” afskeiding maar geen tekens van siklus nie,Is naar,borste effe teer,opblaasgeid,nou en dan seer op eierstokke,laerug pyn,my voete en enkels swel in aand.Wat kan die rede wees vir als?
Wanner kan ek n swangerskap toets doen.Het eergister een gedoen en wys neg.
Baie dankie
Ek is jammer om te hoor van jul verlies, Mercia. Die beste is om dit met jou dokter te bespreek. Ek is glad nie ‘n kenner op die gebied nie. Wat ek wel na my eie miskraam gesien het is dat dit ‘n ruk gevat het voor my siklus weer normaal was. My eie eerste siklus was eers 8 weke na die miskraam en selfs daarna was dinge nog maar vir ‘n ruk deurmekaar en het ek die vreemdste “simptome” gehad.
Baie sterkte vir julle in die moeilike tyd.
Ek wil graag weet ovalueer jy met die mirena?
Ja, Susan, meeste vroue doen steeds. Die mirena skep net swak toestande vir bevrugting en inplanting.
Miskien help die inligting jou http://www.babymed.com/contraception/mirena-iud-and-contraception
Alhoewel die kanse baie skraal is kan mens steeds swanger word met die mirena en kan dit in so ‘n geval lewens gevaarlik wees vir jou en/of die baba (www.mirena-us.com/safety-considerations/)
Hi, ek moes Dinsdag die -4de begin het met my siklus, ek is nou al 3 dae laat, ek het n swangerskaptoets gedoen, was negatief, ek het voorbehoeding gebruik tot 2 maande terug, en was nou vir 4 weke op n baie streng dieet, het ek die toets op die regte tyd gedoen, is dit moontlik dat ek dalk swanger kan wees, laaste wat ek omgang gehad het was 6 dae gelede, gaan ek nou al op n swangertoets verseker kan weet ek is of is nie swanger nie?
Maryke, swangerskaptoetse kan gedoen word wanneer jou siklus sou begin. Deesdae kan sommiges al selfs ‘n paar dae voor dit swangerskap bevestig. Alhoewel dit vir meeste mense werk is daar tog ‘n hand vol by wie die tuistoets nie swangerskap optel nie. In so ‘n geval is dit gewoonlik beter om vir bloedtoetse te gaan, wat meer sensitief is.
‘n Streng dieet kan egter ook veranderinge in jou siklus veroorsaak. Dit kan bloot wees dat jy eers later in jou siklus geovuleer het en dus eers later jou siklus gaan hê (of swangerskap sal kan bevestig).
Hi ek wil net graag ytvind en luistr of u my dalk kn help ek en my man ht di 18de augst sex gehad na 5maande ek ht 2 weke da na getoets 2 vind ek yt x swanger en di 4de week 2 gn ek kliniek 2 en hul stuur my vir n sonar en di sonar wys x 2weke meer hoe werk dit wnt ek kani verstaan ni asb help
Hi Jade, baie geluk met jul swangerskap. Dit is vir meeste mense effe verwarrend. Swangerskap weke word nie gewerk van bevrugting af nie, maar van wanneer jou laaste menstruasie siklus begin het. Omdat bevrugting meestal 2 weke in jou siklus in begin is, beteken dit dat jy 2weke verder swanger is as wanneer seks plaas gevind het. Die eerste 2 weke van enige swangerskap is jy dus eintlik glad nie swanger nie 🙂 Ek hoop dit help.
Baie interessant, dankie. Jy mag maar meer oor hierdie onderwerp skryf. 🙂
Dankie, Toortsie. Iewers moet ek dalk loer na al die vrae wat al oor die onderwerp ingekom het en ‘n opvolg skryf. Dit is net tydrowend om ‘n goed nagevorsde artikel te skryf.
Ja, maar ek dink regtig daar is ‘n behoefte hieraan. In ons jongdae het almal bv geweet hoe om die baba se geboortedatum te bepaal, op die ou, natuurlike manier. Ek kry die indruk dis nie meer algemene kennis nie.