2

Jonk en reg om ‘n ma te wees

5 June 2012
Share

Elsabé (Twincess mamma) is ‘n ma wat weet van al die vreugdes en uitdagings van ma-wees in jou vroeë twintigs. Sy deel haar verhaal op Mamma Zel en hoop om ander jong ma’s te bemoedig.

Ek was maar ‘n baie stil en ordentlike meisie. Glad nie die sosiale vlinder nie. Op skool het hulle my selfs “die dominee se kind” genoem, omdat ek altyd so voorbeeldig was. Ek het altyd hard geleer, huiswerk gedoen, nie eers probeer rook of drink nie. Dis dus verstaanbaar dat dit ‘n massiewe skok vir almal was om uit te vind ek is swanger en ongetroud.

Dit alles het gebeur die eerste jaar na skool. Ek het ‘n groot passie vir alles “baba” gehad. Die mediese veld het my ook nog altyd geïnteresseer. Ongelukkig was daar nie genoeg geld vir universiteit nie, dus het ek besluit om “Professional Child Care College” toe te gaan in Johannesburg en praktiese ondervinding met babas en kinders op te doen. Hopelik sou ek geld kon spaar vir latere studies deur Au pair werk te doen. Dit was sekerlik vir my die lekkerste jaar ooit. Ek was mal oor als wat ons geleer en ervaar het.

Maar teen die helfte van daardie jaar het ek my periode gemis en begin stres. Na die tweede maand wat daar geen teken was nie, het ons toe ‘n swangerskap toets gekoop. Dit het soos ‘n ewigheid gevoel om te sien of die tweede strepie gaan verskyn of nie. Ek het op die bed by Wayne gaan sit, ons het saam gekyk en net begin huil. Dit het ‘n hele paar dae gevat om die moed by mekaar te skraap om my ouers te vertel.

Sy ouers was heel opgewonde. Hy is 8 jaar ouer as ek. Hulle het bly sê hulle kan nie wag vir ons om te trou en vir hulle klein kinders te gee nie. Nou was die eerste een net bietjie vinniger op pad as beplan. My ouers was nie so opgewonde gewees nie. Ek glo nie ons was al ooit so bang gewees soos die aand wat ons hulle vertel het nie.

My ma se eerste woorde was: “As jy met vuur wil speel moet jy weet jy gaan gebrand word.” My pa se reaksie was dat ons vir my Ouma en Oupa moet vertel en hulle gaan baie teleurgesteld wees. En toe begin al die seer maak woorde en baklei. Wat word nou van al my loopbaan planne? Besef ek dat ek my lewe nou opgemors het? Kinders is ‘n groot verantwoordelikheid vir die res van jou lewe. Dit is so moeilik en so duur om kinders groot te maak. Hoe kon ons dit doen?!

Ek het gevoel soos ‘n skool dogtertjie wat haarself in die moeilikheid gekry het en nie eers geweet het wie die pa was nie. Maar dit was nie die geval nie. Ek het matriek geslaag met 4 onderskeidings, met my eerste kursus die hoogste punte behaal en ons was al meer as 4 jaar saam. Ons het soveel keer daardie jaar gevra om verloof te raak, maar my pa wou net nie toestemming gee nie. Sonder dat ons dit eers beplan het, raak ek toe swanger.

Uiteindelik het my pa ingestem dat ons kon trou. Dit na sy redes nie meer geldig was nie en hy uitgevind het dat sy mediese fonds nie my baba sou dek nie. Hy het die Maandag aand toestemming gegee. Woensdag aand het ons die familie genooi en die Saterdag was die troue. Dit was nie naastenby waarvan ek gedroom het nie. Ek wou in trane uitbars en weghardloop toe my pa my in die kerk in vat daardie dag. Genadiglik het ek nie. Twee weke later het ons in ‘n klein plekkie van ons eie ingetrek en toe het dinge bietjie kalmeer.

Ek was mal oor elke oomblik van my swangerskap. Ek het elke aand voor die spieël gestaan en in bewondering gekyk hoe my liggaam verander om ‘n klein mensie te groei. Omdat ek besig was om daarvan te leer, was dit ongelooflik om dit te beleef ook. Manlief was mal daaroor om met sy oor teen my maag te lê, terwyl ons TV gekyk het. Ek het styf teen sy rug geslaap elke aand, sodat hy elke skop en beweging van ons baba kon voel. Ek het gedink ek moet sleg voel oor als, want ek het geweet wat ons gedoen het was verkeerd. Wat ek ervaar het was egter die teenoorgestelde. Dit het my baie deurmekaar gemaak.

So het die dag toe aangebreek vir die geboorte en ons was baie opgewonde en senuweeagtig. Ek het die water geboorte gehad wat ek graag wou hê en manlief was daar om my te ondersteun deur elke pyn. Hy het my vertel wat hy alles sien gebeur het en dit het my deur gedra. Ek het op ‘n stadium gedink ek gaan doodgaan van pyn. Dis mos presies hoekom mens nie so jonk kinders moet hê nie! Maar toe manlief die koord geknip het en hulle die kleine baba op my bors neerlê, was my heel eerste gedagte: “Wow!! My eie baba!” Dit was ongelooflik!

Jayden Matthew is 13:00 op die 13de Maart 2007 gebore. Hy het 3.1kg geweeg, sy koppie was 33cm en hy was 51cm lank. Hy het sommer dadelik sterk begin suig aan my bors en die susters het hom die klein Electroluxie genoem. Dit was ‘n baie vreemde sensasie, maar met elke voeding het ek meer en meer van borsvoeding gehou.

Ek moet erken dat ek redelik selfvertroue gehad met hierdie klein babatjie. Ek dink omdat ek pas die kursusse in ‘Child and Infant Care’ klaar gemaak het, het ek bietjie meer geweet as ander 19 jarige meisies. Omdat ek so gek was oor babas was dit vir my soos ‘n droom wat waar geword het! Maar die kyke en opmerkings wat ek gekry het van ander, was baie intimiderend – om die minste te sê.

Wat ek wel geleer het, is dat daar ‘n doel is met als in die lewe. Jayden was op net die regte tyd aan ons gegee. In 2008 het my Skoonpa 10m deur konstruksie geval en altwee enkels en voete gebreek, manlief se boetie is twee weke voor sy 30ste verjaarsdag oorlede en my ma en pa is uitmekaar uit. Jayden was die liggie in almal se lewens en was baie keer die hoofrede hoekom sy Ouma’s en Oupa’s nie moed opgegee het nie.

Sy name is van Hebreeus afkomstig. Jayden beteken “God het gehoor” en “Dankbaar”, Matthew beteken “Geskenk van God”. Ons is omtrent dankbaar vir ons geskenk!!

Kinders is nie ‘n las nie. Kinders is ‘n seën en vreugde! Hulle verryk ‘n mens se lewe, verdiep jou verhouding met God en selfs met jou vriende en familie. Hulle bring vreugde waar ook al hulle kom. Dis harde, uitputtende, nimmer eindigende werk – verseker. Maar dit is elke liewe traan, glimlag en oomblik werd. Deur en deur.

Dit wat ons gedoen het was verkeerd en ek wens ek kon tyd terug draai en nie seks voor die huwelik gehad het nie. Maar… Jayden was nooit ‘n fout nie. Dit het my ‘n paar jaar gevat om myself te vergewe en in te stem om vir ‘n tweede kind te probeer. Toe ek dit uiteindelik gedoen het, was ons sommer dubbeld geseën met tweeling dogtertjies in Augustus 2010!! My Twinsesse.

Ek het nooit kans gehad om al die studies te voltooi wat ek wou nie, ek het ook nog nooit gewerk en geld verdien nie. Ek het besluit om self my kinders groot te maak. Om tuisbly mamma te wees is nie aldag maklik nie. Ons moes al baie goed opoffer om dit moontlik te maak. Maar dit is die moeite werd. Ek bly myself troos daaraan dat ek nog redelik jonk gaan wees wanneer my kinders groter is en ek dan steeds ‘n mediese loopbaan kan najaag.

Mens is so gewoond dat die norm is om skool te gaan, te studeer, ‘n loopbaan te hê en die lewe eers te geniet en jouself te vind voor jy nesskop en met ‘n familie begin. Ek wonder tog baie dae hoe my lewe sou gewees het as ek nie swanger geraak het nie. Maar as ek dink hoeveel genot die drie kinders al vir ons verskaf het, weet ek als het goed uitgewerk. Ek sal hulle vir absoluut niks verruil nie! (Wel dalk vir ‘n goeie nag se deurslaap)”

Daar is hope voordele daaraan om in jou twintigs swanger te raak:

– Uit ‘n biologiese oogpunt is dit die beste jare om swanger te raak. Jou fertiliteit is op sy piek in jou middel twintigs. Na slegs 4 tot 5 maande is meeste vroue in hul vroeë twintigs swanger. Terwyl dit op gemiddeld 6 tot 7 maande neem in jou laat twintigs.

– Daarby is die kanse op chromosoom afwykings, wat onder andere Down’s sindroom insluit, die minste. Omtrent 1 uit elke 1 500 babas van ma’s tussen 20 en 24 sal Down’s sindroom hê, terwyl 1 uit elke 700 babas van ma’s tussen 35 en 39 jaar dit het.
– Jy het ‘n kleiner kans om ‘n miskraam te kry. Soos jy ouer word word die risiko vir ‘n miskraam al groter. Dit is:

  • omtrent 1 uit 10 op die ouderdom van 20
  • 1 uit 5 teen 30
  • omtrent 1 uit 2 teen 40 jaar
  • en ongeveer 3 uit 4 as jy 45 jaar en ouer is

– Jy het ook ‘n kleiner kans op ander gesondheidstoestande soos miome en endometriose wat jou fertiliteit kan beïnvloed.

– Net 3-5 % van 20 jarige vroue sukkel met onvrugbaarheid.
– Jy mag ook swangerskap makliker vind in jou twintig. Die kanse is goed dat jy ‘n gesonde, probleem-vrye swangerskap gaan geniet. Jy het ‘n kleiner kans as vroue oor 35 om hoë bloeddruk, diabetes, pre-eklampsia, ‘n vroeg gebore baba of ‘n lae geboorte gewig baba te hê. Asook ‘n kleiner kans dat jou baba spina bifida sal hê.

– As die baba eers daar is gaan jy waarskynlik ook meer energie hê. Jy gaan ‘n paar keer snags kan opstaan om jou baba te voed en steeds goed funksioneer die volgende dag.

– By dit alles gaan ‘n jong ma eendag nog jonk genoeg wees om saam met haar kleinkinders te speel.

Daar is ook ‘n paar uitdagings om van bewus te wees:

– ‘n Vrou in haar twintigs mag dalk nie emosioneel gereeld voel om ‘n ouer te word nie.

– Baie van jou vriende het waarskynlik nog ‘n aktiewe sosiale lewe en jy mag soms jaloers voel daarop.
– In jou twintigs is jy nog besig om jou voete in die beroepswêreld te vind. Na ‘n baba kan dit moeilik wees om weer ‘n loopbaan van die grond af te kry.
– Selfs al gaan jy weer werk direk na jy kinders gehad het is die kanse goed dat jy minder gaan verdien as vroue wat nog nie ma’s is nie. Dit motiveer vroue dikwels om eers later kinders te hê.
– Alhoewel die twintiger jare dalk biologies die beste tyd is vir kinders, is dit nie noodwendig waar vir familie finansies nie. Jy mag moontlik nie tyd hê om ‘n studielening af te betaal of ‘n huis te koop nie.
– ‘n Baba kan ook baie stremming op ‘n verhouding plaas. Vir ‘n jong paartjie mag dit dalk moeilik wees om perspektief te behou in die tyd wat oneindig lank kan voel.

– Jy mag dalk onvoorbereid voel op die eise van ouerskap. Anders as ander twintigjariges het jy nou die verantwoordelikheid van ‘n baba en kan nie meer ‘n kommervrye lewe lei nie.
– Om ‘n ma te word is ‘n oorweldigende ervaring vir alle vroue, maar as jy ma word in jou tiener of vroeë twintiger jare kan dit tien keer moeiliker wees. Skielik is jy verantwoordelik vir ‘n klein onskuldige mensie vir wie jy liewer as enige iets anders is.

– As jong ma kan jy soms nie die nodige lewenservaring en middele tot jou beskikking hê op die ongelooflike reis nie.

– Opmerkings en kyke begin dikwels al terwyl jy swanger is. Mense is geneig om jong ma’s as onverantwoordelik te sien. Moenie dat dit jou selfvertroue ondermyn nie.

Onthou lewenservaring en middele maak nie van jou ‘n goeie ma nie. Liefde en opofferings doen! Jy kan ‘n goeie ma wees op enige ouderdom.

NS: Jong ma’s kan gerus vir ondersteuning http://youngmomsupport.co.za besoek. Dit is ‘n ondersteunings groep wat gestig is deur ‘n jong ma. Die groep kom maandeliks in Vishoek bymekaar, maar die webblad het hope inligting deur jong ma’s vir jong ma’s.

Bronne:

http://www.conceiveonline.com/articles/getting-pregnant-your-20s-30s-and-40s

http://www.babycentre.co.uk/preconception/activelytrying/twenties/

http://voices.yahoo.com/article/84659/becoming-mommy-teens-early-twenties-112924.html?cat=25

http://www.babyzone.com/pregnancy/article/20s-30s-40s-pregnancy

http://www.gurgle.com/guides/guide-to-pregnancy/pregnancy-in-your-20s-30s-and-40s/1334/

http://www.firstpregnancy.com/teen_pregnancy/teenpregnancy_joysfrustrations.html