3

Kinder Spele

13 August 2012
Share

Die opwinding van die Olimpiese Spele was (en is) groot in ons huis gewees. Veral Ellard was skoon begeesterd. Alles het skielik resies gejaag. Selfs sy koutjies. En gereeld het dit opgewonde op geklink “En Afrika is voor, en amper word hulle ingehaal en Suid-Afrika WEN!”

Ons moes dus net ons eie Olimpiese spele hou. Laas Saterdag was toe die groot dag. En was dit nou pret! Die kinders het dit vreeslik baie geniet. Ellard was skoon ongelukkig toe dit klaar is. Ek het dus belowe ons sal ‘n tweede sessie doen. Die keer was Pappa nie by nie en Salomie minder begeesterd. Die hoogtepunt was telkens die medalje seremonie. Hulle loop kort-kort met die “medaljes” om hul nek rond en almal wat kom kuier moet dit net sien.

Ek moet erken dat dit nogal ‘n uitdaging was om die spele regverdig te hou. Kleinsus se kanse teen ouboet is maar skraal nie, maar sy staan nie terug vir ‘n uitdaging nie. Hier is net ongelukkig nie ‘n sport fotograaf in die familie om die kosbare oomblikke ordentlik vas te vang nie.

Ons eerste spele se items was die volgende:

  • Sakkie ver gooi wat Ellard natuurlik gewen het
  • Balle ingooi wat Salomie (met ‘n ekstra bal of 2) gewen het
  • Sakkie vang wat Ellard met 1 vang gewen het
  • Ellard het ook die ver spring en skiet gewen
  • Salomie het egter die fietsie ry deur paaltjies gewen (die knaap was net te haastig om versigtig genoeg te ry)
  • En laastens het ons in spanne deelgeneem aan skiet en Salomie en Pappa het gewen.

Ons 2de spele se items was:

  • “Pinball” wat Ellard gewen het
  • Rolbal wat Salomie gewen het
  • Sakkie gooi (hulle moet soveel moontlik houdjies omgooi) en die twee het ewe veel omgegooi
  • Gewigstoot wat Ellard so net-net gewen het (Salomie met haar ligter bal was net 2 cm agter)
  • En ons het weer ‘n bal ingooi gedoen. Salomie was teen die tyd net nie meer lus nie. So natuurlik het Ouboet met die prys weg gestap.

Ek het so ‘n spesmaas dat ons weer deur die opwinding gaan hê as die Paralimpiese spele einde van die maand afskop. Oscar Pistories het immers reeds 2 groot klein aanhangers in ons huis.