Ons het laas Vrydag ‘n heerlike uitstappie na die Cape Dairy Experience gehad. Daar is baie voordele daaraan om van die min mense te wees wat eerste ding op die Vrydag daar uitslaan. Dis nie oorvol nie en mens kan nog lekker rondloer (en daar is nog sitplek). Dit beteken ongelukkig ook dat al die aktiwiteite nog nie so heel mooi op dreef is nie. Ons het egter nie omgegee nie. Ek sal beslis die kinders die volgende keer weer eerder op ‘n Vrydag vat, voor die groot vertrapping van die naweek.
Die kinders het so baie die dag geleer. Natuurlik was dit heerlik om speel-speel te melk. En die springkasteel was ‘n groot treffer. Hulle het hulle dood gelag vir die koeie wat toileteer, tipes kinders. Vir die klomp dorpsjapies was dit goed om te sien hoe groot is ‘n koei en bok nou eintlik en hoe hulle voel.
Die dag het die kaap egter sy hitte kraan behoorlik oop gedraai. Dis ongelooflik om te dink net 2 Vrydae vroeër het dit nog gesneeu! Gelukkig kon ons almal heerlik smul aan roomys en slush-puppies. Ons is heeltemal te dankbaar dat die warmer weer uiteindelik hier is om te kla oor die bietjie sweet.
Bo en behalwe als, jy neem mooi fotos!
Ag, dankie Loli. Jy doen my hart goed. Ek kort ‘n nuwe kamera. Kamera nr 2 het ook ‘n duik in die see gevat en verdrink (die eerste het dadelik die gees gegee, die tweede een het 6 maande na die verdrinking eers op gepak – neem aan iewers het iets begin roes). So nou is dit maar ekke en die selfoon. Gelukkig darem dat selfone deesdae nogal oulik kan wees (as hulle die dag wil).
Selfone…Ja, net as hulle die dag wil! Ek besef toe mos noudiedag, ja, ek wil ook eintlik ‘n regte kamera hê….die dat die blog gogga gebyt het!!!! ja, nê….watch this space!