Kyk ek is so vet agter met die blog dat dit net nie meer snaaks is nie. Dit is nie dat ek niks het wat ek wil laai nie! Die probleem lê juis by die laai. Vet weet, ek het nie geduld vir sukkel met ‘n internet konneksie nie. Lyk al vir my hoe groter die “bundle” is wat jy het, hoe swakker is die konneksie. Dis is ‘n reuse frustrasie. Iewers in my agterkop probeer ek onthou wat ek alles wou laai. Hopelik vergeet ek nie die helfte nie en kry darem alles een of ander tyd gelaai.
Ek wil onder andere nog ons nuwe avonture op die Little Professor deel. Maar die sal moet wag vir ‘n ander post. Nou dat die knaap getalle so goed onder die knie het wil hy met mag en mening begin lees. Hy sal egter bietjie geduld moet hê. Eers sal hy die hele alfabet moet leer (hy ken al heelwat letters, maar nie almal). Een van sy ander passies is motors (ja, hy het tonne goed waarin hy nou belangstel – Dinosourusse, goggas, slakke, …..). Oral waar ons gaan wil hy weet watter kar is dit. Ek het dus besluit om die letter leer en motors te kombineer. Ek het vir hom flits kaarte gemaak van motor fabrikate (wel daar is ‘n paar modelle by om uit te help met ‘n letter of 2). Ons het sommer ook ‘n paar lorries en trekkers by gegooi (hoe dan nou anders). Hy geniet die leer sessies verskriklik baie. Ek het die kaarte hier gelaai, dalk is daar nog seuntjies wat met dit wil speel. Net ‘n opmerking, onthou omdat die fabrikate nie Afrikaans is nie, is al die klanke nie foneties korrek nie.
Die knaap se groot missie is dat hy self vir Vos en Haas wil kan lees. Toe hy hoor ek het die boeke (al 3 in die reeks) bestel hol hy na kleinsus. Hy is gou om vir haar te vertel hy gaan leer lees, sodat hy dit vir haar kan lees. “Dan hoef mamma nie in die aand vir jou te lees nie”. Ek het lekker gegiggel. So asof hulle die aand stories sal laat gaan (pappa mag dan nie eers die vir hulle lees nie). Ek is egter bly hy is opgewonde. Ek het mooi probeer verduidelik dat ons elke dag bietjie gaan moet oefen en dat dit dalk lank kan neem. Vir nou sit dit hom nie af nie. Ek hoop die entoesiasme hou. Net tyd sal seker leer.
Kleinsus wil niks weet van leer lees nie (sy het my mooi vertel dis boetie se dinge). Sy is oortuig sy sal die eers kan doen as sy 4 is. Min wetend dat sy ook in elk geval goed optel soos ouboet leer. Maar daar is immers geen haas nie. Tog het ek ‘n vermoede dat sy so saam met ouboet gaan leer. Sy ken al klaar net soveel letters soos hy (ek dink soms sy raak minder deurmekaar daarmee as hy – hy wil immers eerder boom klim of rond hol as stil sit). Maar sy wil nog nie, en daarom dink ek gaan dit vir haar eers later gebeur.
So tussen deur speel ons “wat sien jy wat begin met…?” speletjies, omkring spesifieke letters op bladsye en allerhande sulke prettige dinge. So speel speel leer hulle hope
1 Response
[…] Een van ons knaap se gunstelinge is die Motor ABC. […]