5
6 November 2012
Share
‘n Week of wat voor ontbyt sit die kinders en boerbone skil (hulle het besluit dis wat hulle nou eers wil doen). En ek besef net weer hoekom kinders wat tuis leer meestal meer tyd het vir speel en tog dieselfde (en dalk selfs meer) leer as die in ‘n skool.

Sien eerstens moes hulle mooi dink hoe hulle die boontjies gaan uitgedop kry (elkeen het sy/haar eie plan gemaak), daarby oefen hulle so baie. In die skool sou juffrou waarskynlik klei, knip en skeur met hulle moes doen om net dieselfde motoriese vaardighede te oefen. Daarby het hulle sommer ‘n biologie les so onwetend ingewerk. Hulle leer van peule, hoe boontjies binne lyk, ens. Dis so ‘n heerlike afsluiting van ons bone “les”. Die laaste maande het hulle gesien hoe die boontjies ontkiem, groei, hoe die ruspers en slakke die plant verrinneweer, die blommetjies wat later piepklein peule geword het, en toe hoe die peule stadig maar seker uitgeswel het. En later vandag gaan ons die bone gaar maak en kry hulle sommer ‘n huishoudkunde les by. Hoeveel tyd sou in ‘n klas verband spandeer moes word om net al hierdie dinge vir hulle te leer?

Meestal ontleed mens dit nie so nie. Ons leef net ons gewone dag saam met ons kinders en staan dan verstom oor wat hulle iewers langs die pad geleer het.