1

Stimulasie

13 November 2012
Share

Een van die dinge waaroor ons ma’s so dikwels wonder is: Kry my kind genoeg stimulasie? Dit terwyl die vraag eerder moet wees, word my kind nie te veel gestimuleer nie. Vir lank het ek met dieselfde dinge geworstel. Genadiglik genoeg het ek oor die laaste 5 jaar ‘n paar dinge wys geword. Een hiervan was dat, juis in daardie tye wat ek nie tyd het my kinders te stimuleer nie, hulle die meeste leer. Dit klink so verkeerd om. So asof dit glad net nie sin maak nie.

Dit is juis agv hiervan dat dit skielik vir my s’n gemaak het toe ek die ander dag lees hoe ‘n opvoedkundige “expert” skryf dat ons uit ons kinders se pad moet kom dat hulle kan leer. Sien die slim manne en vroue het jare terug al studie op studie gedoen (en hulle doen steeds) en gevind dat kinders nie hope stimulasie nodig het nie. Hulle het liefde, aandag en hope tyd vir vryspel nodig. Dis dit. Niks “fancy” of duur nie.  Nie super oulik of ingewikkeld nie. ‘n Onlangse studie het immers weer gevind dat ouer betrokkenheid ‘n groter invloed op kinders se ontwikkeling en prestasie het as sosiale agtergrond, finansies en selfs skool. Ja, hulle het gevind dat die rykes se kinders in die beste skole nie beter vaar as die armes se kinders in die swakste skole nie. Alles het af gehang van hoe betrokke die ouers by hul kinders was. Nogal eintlik fantasties.

Waar ons as ouers die pad byster geraak het weet ek nie mooi nie. Toe ek nog ‘n spruit was het ons ma’s immers nog geweet hoe dit gedoen moet word. Hulle het huis skoon gemaak, kos gekook, gekuier by vriendinne, die gewone dinge en ons het GESPEEL. Dis dit. Het ons meer nodig gehad? Nee. Soveel navorsing wys dat kinders deesdae juis meer sukkel, ten spyte van al die “meer” wat hulle kry. Dis miskien nie heeltemal verbasend nie. Ons omgewing is immers reeds soveel meer stimulerend. Daar is TV, advertensie borde, DVD’s, iPads en internet, net om ‘n paar te noem. Oral is daar klanke, ligte, beelde.

Ek het my eie teorieë waarom ons deesdae glo jy het ‘n graad (of 3) nodig om kinders groot te maak en net die beste speelgoed/toerusting nodig het. Die eerste hiervan is wat die Ingelse noem “commercialism”. Sien daar is geld te maak. As jy ouers kan oortuig dat hulle kind net nie sonder die of daai kan klaar kom nie, kan jy sakke vol geld maak. Die baba- en kinder-industrie doen fantasties. Die ouens het besef ouers kan uitgebuit word. En hoe minder tyd ons het om saam met ons kinders te spandeer, hoe skuldiger voel ons. En natuurlik hoe vinniger/makliker ruk ons ons beursies uit.

Die tweede oorsaak is natuurlik ons self. Waar die meeste kinders jare terug tuis was voorskool, en ‘n handjie vol in ‘n kleuterskool, het die skaal nou geswaai. Meeste kinders gaan kleuterskool/dagmoeder/ens toe. Sien as jou kinders tuis is, weet jy presies wat hulle kan en nie kan doen nie. Jy sien hoe hulle ontwikkel, vorder en waarmee hulle sukkel. As jou kind egter in ‘n skool is moet die juffrou jou op een of ander manier op hoogte hou. Jy wil immers weet of jy nie jou kind se tyd en jou geld mors nie. Of hy/sy nie eerder na ‘n ander skool moet gaan nie. So hoe doen skole dit? Hulle doen tonne aktiwiteite, sodat ouers kan sien “my kind het vandag dit gedoen”. En natuurlik skryf hulle verslae en rapporte wat bloot jou kind met die ander kinders in sy/haar klas vergelyk (so asof kinders almal uit dieselfde vorm gegiet is) Was die aktiwiteite nodig, nee. Was dit die beste manier om iets nuuts te leer, onwaarskynlik. Moet my nie verkeerd verstaan nie het het soveel simpatie met kleuterskool juffrouens. Dikwels wil hulle ook net hê kinders moet speel en self ontdek, maar hulle voel die druk is daar om “uit te haal en te wys”.

Maar ek dwaal af. Feit is kinders leer deur waarneming. Hulle is gebore klein wetenskaplikes wat wil weet hoe goed werk en hoekom dit so werk. Die mens (en kinders nog meer so) wil alles weet. Ons die heeltyd leer. Deur kinders die heeldag besig te hou, kry hulle bloot nie die kans om dit te ontdek wat hulle kan nie. Hulle kry nie die geleentheid om hulle natuurlike talente en belangstellings te ontwikkel nie.

Beteken dit mens moet nooit enige iets met hulle doen nie? Beslis nie. Maar as jy hulle los om te speel en te ontdek en hulle verbeelding te ontwikkel, sal al die vrae wel kom. As jy kinders los, kom vra hul vir wat hul nodig het. Hulle kom vra om te knip en plak. Prente te teken en klei te speel. Hulle kom vra vir meer inligting oor dit of dat. En beste van alles hulle leer net soveel (of dalk selfs meer) uit alledaagse aktiwiteite soos saam kos maak.

En as daar nog enige twyfel in my hart oor dit was, het my 5 jarige dit al oor en oor bewys. Nog nooit het ons ‘n dag syfer of letter erkenning of skryf gedoen nie. Tog ken hy al die getalle en kan almal skryf. En hy ken omtrent die helfte van die alfabet. Die het hy alles so tussen die speel deur vir homself geleer. En nee, dis ook nie die TV wat hom die geleer het nie, want in die huis het ons lankal agter gekom dat TV heeltemal te veel stimulasie vir klein breintjies is.

Wat probeer ek dus eintlik sê? Maak eerder ‘n ekstra 5 minute elke dag om jou kind in jou arms toe te vou as om aan nog iets stimulerend te dink om met hom/haar te doen. Sit eerder die TV af en maak saam kos. Kuier! Gooi ‘n kombers onder die boom oor die naweek, lê en ontspan en laat jou kinders rond hol eerder as om ‘n uitstappie te beplan. Ons kinders vra regtig so min van ons. Net ‘n bietjie tyd en liefde.