1

Mylpale

13 November 2012
Share

Ek wonder nou al vir ‘n ruk hieroor. Elke ma weet dat kinders mylpale bereik wanneer hulle hulle bereik. Daar is niks wat jy kan doen om dit te verander nie. Jou kind is ‘n individu en dis bloot hoe dit is.

Daar is babas wat op 3 maande al tande sny en ander wat eers op 18 maande begin. Dit sê niks besonders van daardie spesifieke baba nie. Daar is niks fout met die een wat eers op 18 maande begin nie. En die een wat vroeg begin het, is nie ekstra spesiaal nie. Dieselfde tel vir wanneer kinders begin sit, kruip, loop, spring, praat en “pottytrain”. Ons verstaan dit almal. Ons leer gou om te spog met die dinge wat ons kroos vroeg doen en bly eerder stil oor die wat hulle bietjie later by uit kom.

Tog vlieg die logika heel by die deur uit as ons kinders eers skool toe gaan. Skielik moet elke 7 (of amper 7) jarige kan lees en somme doen. Wat het geword van kinders wat teen hul eie pas mylpale bereik? Die ergste van dit alles is dat die navorsing wys kinders is gemiddeld tussen 6.5 en 8.5 jaar gereed om te leer lees. Gemiddeld is in elk geval vir my so ‘n gevaarlike term. Wat word van die wat buite die gemiddeld val. Die kinders wat dalk al op 4 of eers op 10 reg was?

Tog verwag ons van kinders tussen 6 en 7 (afhangende van wanneer hulle verjaar) om te begin lees. En skielik is die wat vroeg gereed was die “slim kinders” en die wat eers later gereed is die “dom kinders”. Is die vroeër lesers regtig slimmer en die lateres meer dom?  Tel dieselfde nie maar as met al hul vorige mylpale nie? Dieselfde gebeur natuurlik met wiskunde en taal en en en. Ek vermoed ons plaas bloot so beperkings op ons kinders.

Hoeveel suksesvolle entrepreneurs het immers nie disleksie nie. Hulle het verseker nie op 7 gelees nie! Tog kyk waar sit hul vandag!

Ek dink miskien het die skoolstelsel jare terug iets beet gehad. Toe klasse nog gemeng was. Een onnie het vir ‘n hele paar grade (toe nog standerds) klas gegee. Het jy gesukkel met iets dan het dit jou langer geneem om die standerd te voltooi. Of miskien was dit net ‘n moeilike jaar, jou ouma is dalk dood of wat ook al. Snap jy weer vinnig die werk dan skuif jy sommer ‘n standerd op. Maak dit nie meer sin om teen so ‘n pas te beweeg nie? Nie dat ek dink dat daar nie daardie tyd ook etikette om kinders se nekke gehang is nie. Ek is seker die wat op 15/16 klaar gemaak het met matriek was gesien as die “slim” kinders. En die wat laat klaar gemaak het as die “dom” kinders. Miskien is die groter vraag hoekom wil ons mense en kinders in boksies plaas met etikette op? En as ons dan etikette op wil plaas, moet dit “slim” of “dom” wees? Kan dit nie eerder “kreatief”, “energiek”, “geesdriftig” of “leergierig” wees nie.

Hierdie etikette bly by mense. En tog sê dit absoluut niks van jou nie. Is alle mense met PhD’s geniaal? Nee, beslis nie, maar hulle het deursettingsvermoë. Hulle het ‘n begeerte gehad om iets te bereik en dit gedoen! Op die einde bereik mens in die lewe wat jy wil deur deursettingsvermoë en is dinge soos integriteit, hardwerkendheid, visie ens van soveel meer waarde as hoe oud jy was toe jy bv leer lees het.

Ek wonder maar net …