1

Die doel van wiskunde

22 October 2014
Share

Ons probeer so hard om nie skool by die huis te speel nie. Ek dink egter ons is dikwels nog te vas gevang in die skool konsep. Skool het sy eie boksie vir wiskunde wat niks met die ware doel daarvan te doen het nie.

In die laer grade gaan wiskunde hoofsaaklik oor getal begrippe en basiese berekening. Daai dinge wat ons nodig het in ons alledaagse bestaan. Tyd, mates, met geld werk en daai klas ding. Die grootste leun wat ons wys gemaak word is dat mens agter boeke moet sit om dit baas te raak. Juis omdat dit alledaagse dinge is, leer kinders dit die beste deur alledaagse dinge. En waar is ‘n beter plek om dit te doen as tuis.

Elke paar maande probeer ek kyk waar my kinders se wiskundige begrip is relatief tot die kurrikulums. Dan staan ek verstom wat hulle alles self ontdek en baas geraak het deur ons leefwyse en speel. Gewoonlik is dit baie meer as wat van hulle verwag word. Dan haal ek weer diep asem en los hulle om verder self te ontdek. (eendag sal ek hopelik dit reg kry om nie eers te gaan vergelyk nie)

Die hoër grade het egter bittermin te doen met iets wat Jan alleman op ‘n daaglikse basis gebruik. Dis juis daarom dat baie kinders (en dikwels selfs hul ouers) geen doel daarin sien nie. Wat min mense besef, is dat die wiskunde eerder vir kinders logiese denke en probleem oplossing leer. Dit gaan oor ‘n manier van dink, nie oor presiese formules en metodes nie (iets wat net papegaai werk is). En alhoewel die van ons wat gek is oor getalle mal is oor die nuwe uitdagings wat wiskunde dan bied, is dit verseker nie die enigste manier om logiese denke en probleem oplossing te bevorder nie. Daar is tonne ander maniere om presies dieselfde resultate te kry – logika speletjies is immers wyd en suid beskikbaar (as speelgoed, apps en veel meer) en dan is daar natuurlik die lewe self en tuisindustrieë wat dit net so goed ontwikkel.

Ek is self mal oor wiskunde en al die uitdagings wat dit bied. Dit is seker al manier waarop ‘n mens vrywilliglik ‘n vak, wat meeste harte met vrees vul, tot op Honneurs vlak neem (en geniet). Juis daarom is dit vir my so belangrik dat my eie spruite ‘n stewige fondasie in wiskunde het. Hulle moet eendag al die gereedskap hê om dit so ver te vat as wat hulle sou wou. Dit beteken egter ook dat ek oral om ons geleenthede sien om aan die vaardighede te werk. Geleenthede wat niks te doen het met ure agter boeke of voor werksvelle sit nie.

Ek dink dis juis om die rede dat soveel mense met volwasse kinders kan getuig dat hul kinders vir lang tye geen formele wiskunde gedoen het nie, maar dan wanneer hulle dit wou doen, dit in ‘n rekord tyd baas geraak het.

Ek weet dit is moeilik (ek spook nog elke dag self daarmee), maar dis tyd dat ons besef ons sit met die ryk en beste leer omgewing vir ons kinders tuis. Dis die skool wat desperaat probeer om een te  skep wat ‘n skadubeeld daarvan is. Vir ons om skool te probeer naboots tuis, is om net agter uit te boer en nie die beste wat tot ons beskikking is te gebruik nie.