Ek het al dikwels half skuldig gevoel oor ons rustige skooldae. Ons doen eintlik so min, maar tog vorder die rakkers so goed. En ek is nie al een wat wonder oor die verskynsel nie. Ek het al dikwels ouers wat kinders uit die skool haal gehoor vra wat die kinders dan nou juis heel dag by die skool gedoen het, want hul is nou in ‘n rekord tyd elke dag deur al die werk (dikwels dieselfde hoeveelheid tyd wat hul voorheen aan huiswerk spandeer het).
Aan die begin het ek gedink dit is, omdat daar minder dinge is wat hulle aandag aftrek tuis. Nie dat ek seker is of dit waar is as jy ‘n babasus in die huis het nie. Later in die jaar het ek besef ons werk oor ‘n langer tydperk. Buiten vir ons jaarlikse vakansie, ‘n kuier van ouma of ‘n siek dag af is elke dag net nog ‘n dag van leer. Lui die spreek woord nie, “slow and steady does it”?
Nog later het ek besef daar is hope onderbrekings vir skoolkinders. Van oefen vir die skoolkonsert of revue tot uitstappies en sportdae. En toe heel onlangs ek het eers besef hoeveel tyd assessering vreet. Ja, vreet, want dit is sommer sulke reuse hompe tyd. Toe die maats al ernstig besig was met eksamen (of wag, hul noem dit iets anders, maar die konsep bly dieselfde), is ons nog heerlik besig om te leer. En nou is die toets reeks (of wat hulle dit ook al noem) verby en die kinders spandeer hulle dae om in te kleur. Dit terwyl ons nog steeds op ons rustige pas voortgaan.
Daar is natuurlik nog ‘n voordeel aan ons wat maar net altyd besig is met leer. Na ‘n skoolvakansie hoef ons nie eers weer hersiening te doen, omdat die kinders intussen die helfte weer vergeet het nie.
Maar ek het nog iets besef. Ons leer miskien net ‘n kort rukkie elke dag iets formeel, maar dit wat ons die res van die dag doen is ook deel van leer. Al die boeke wat ons lees, speletjies wat ons speel, legkaarte wat ons bou, kuns en kunsvlyt wat ons maak en uitstappies waarop ons gaan, sien ons miskien nie as skool nie, maar tog is dit waar hulle die heel meeste leer.
So as jy pas jou kind begin tuisonderrig het, moet jou nie koud skrik as daar skielik soveel meer tyd vir speel is nie.
Dit is baie waar! Ons het presies dieselfde situasie by ons, dat ons net omtrent ‘n uur “skool” het, dit is nou Bybelstorie lees, en dan letters oefen/speletjie speel, of somme of iets wat nou gemerk is vir die dag, en dan speel die mannetjies, binne, buite, rekenaar, stories lees, ens. Maar ons gaan rustig aan met ons pas, sommige dae net oor dit waarin hulle geinteresseerd is, en tog het hulle alles vir die jaar gedoen wat hulle moes.
En dan vra meneer maar gaan ons nie lees vandag nie? Gaan ons nie wurms tel nie? So al het ek hier iewers in my agterkop gedink, ok, dit is nou breek want die skole sluit mos, moes ek vinnig van denkwyse verander.
Hier is dit die eerste Desember vakansie in baie jare wat manlief nie verlof het en ons weg gaan nie. En ek kry die gevoel dit gaan beteken dat dinge net soos elke ander dag gaan aangaan. Ek probeer hard dink aan leer en besig bly dinge wat anders as ons normaal is, maar vir die kinders is leer net deel van elke dag. Dis iets waaroor ek vreeslik bly is, maar ek sal nie omgee vir ‘n bietjie verandering nie.