Dis nou al ‘n wyle terug wat ek begin lees het oor die feit dat kitsgis nie baie gesond is vir mens nie. So saam met dit het ek begin loer na suurdeeg brood en die gebruik van Kefir. Dit lyk nie te moeilik nie, maar dis tog ‘n langer proses as om met gis te bak. En so bly ek uitstel om met die resepte te begin eksperimenteer. Eintlik is die groot gelol dat ek nie tyd maak om te gaan soek vir daai Kefir nie. Iewers sal ek moet plan maak!
Intussen het ek uit nood die bakpoeier plaasvervanger ontdek en dit het my laat dink. Ek het immers al gesien hoe ‘n bietjie koeksoda of kakao help om ons brood beter te laat rys. Is dit nie dalk moontlik om die gis heel te vervang met die koeksoda en asyn nie?
En so begin ek toe eksperimenteer. Die eerste probeer slag was ek heeltemal te oorgretig. Die brood rys vir ‘n vale, maar smaak oes van die koeksoda. Dit het nog ‘n paar keer se verstellings gekos, maar deesdae bak ek sonder gis.
Die brood smaak nogal anders as wanneer jy gis gebruik, maar vir my is dit nie sleg anders nie. Inteendeel dis die eerste rogbrood wat manlief ook bereid is om te eet. Hoofsaaklik omdat die brood baie ligter is en nie so ‘n harde kors het nie. Ons oudste is nie heeltemal so beïndruk nie. Hy verkies my gis brood. Dis nie noodwendig ‘n sleg ding nie. Dit pas my dat hy ‘n raps minder brood verorber. Die knaap kan inlê! Maar wat ek die meeste van die brood hou is dat dit vinniger is om te bak, omdat dit nie nog moet rys nie.
Ek is seker ek sal nog mettertyd veranderinge aan die resep aanbring. Hoofsaaklik om ons knaap te probeer gelukkig kry, maar vir nou is dit ons elke dag brood. Ongelukkig is die resep nog vir 2 brode. Ek het nog nie kans gehad om dit te halveer en te kyk of dit steeds werk nie. (Hier is die resep vir ‘n enkel brood). Laat weet gerus wat julle daarvan dink en dalk sou wou verander.
Nou het ek begin kyk om beskuit te bak op dieselfde manier. Die eerste baksel het lankal mae gevind, maar ek wil nog bietjie skuur en skaaf voor ek dit met julle deel.
Resep vir 2 rogbrode sonder gis
900g rogmeel
500ml melk
400ml water
60ml olyfolie (opsioneel – dit help nie sodat die brood langer vars bly)
4 groot eier
60ml mielieblom
60ml suiker
20ml koeksoda
15ml asyn
10ml sout
15ml kakao
Meng die asyn en melk en laat dit vir ‘n paar minute staan.
Voeg die water, eier en olie by en meng.
Voeg al die droë bestanddele by en meng baie goed.
Verdeel die slap deeg in 2 silikon broodpanne en bedek met foelie of bakpapier.
Laat dit staan terwyl die oond warm word (ek het iewers gelees die deeg moet bietjie staan, maar net nog nie self getoets of dit waar is nie).
Verhit die oond tot 240 grade Celcius
Bak die brode vir 30 minute en verlaag dan die hitte na 180 grade en bak dit vir ‘n verdere 30 minute.
Dagsê het jy dalk al n beskuit resep my man mag gladnie meel produkte eet nie net rogmeel🤫
Hi Hanna, Ek het die broodresep al heelwat vereenvoudig. Is seker maar wat gebeur as jy iets elke dag of 2 moet bak. Deesdae lyk my resep as volg:
500g rogmeel
700ml melk
60ml asyn
15ml koeksoda
Meng die asyn en melk.
Voeg rog en koeksoda by en meng baie goed.
Plaas in ‘n broodpan (dis ‘n slap, loperige deeg).
Bak vir 45 minute by 200 grade Celsius (bak tyd mag effe verskil)
Vir beskuit het ek dit aangepas as volg:
Growwe beskuit
900g rogmeel
900ml melk
4 eiers
200g botter
2k klapper
1 1/2k suiker
90ml mielieblom
60ml asyn
20ml koeksoda
60ml linsaad / sonneblomsaad
Meng die asyn en melk.
Voeg gesmelte botter by.
Voeg droë bestanddele by en meng baie goed.
Plaas in ‘n beskuitpan of glas tertbakke (dis ‘n slap, loperige deeg).
Bak vir 60 minute by 200 grade Celsius (bak tyd mag effe verskil)