Dis nou al ‘n geruime tyd dat ek al ons rogbrood self bak. Ek het begin in ‘n broodmasjien, maar vind dit nou baie makliker en vinniger om dit sommer in die oond te doen. Mettertyd het die resep ook verander en ek dink dis dalk tyd dat ek die nuutste weergawe deel. Ons het uiteindelik ‘n rogbrood wat nie so swaar is nie en heerlik uitreis. Die resep is effe buigbaar, sodat dit nie elke keer presies dieselfde is en ons moeg raak om dit te eet nie.
Ek maak meestal die resep dubbel aan en bak dit dan aan die einde vir ‘n verdere 15 minute op 180 grade (dus 30 minute op 240 en dan ‘n verdere 30 minute op 180). Ons eet gewoonlik amper ‘n hele brood op die eerste dag op. Dis darem net te lekker om te smul aan ‘n warm sny brood met botter. Die 2de brood is dan vir toebroodjies vir die volgende paar dae.
My grootste wenk is om dit in silikon panne te bak en dit met bakpapier of foelie te bedek. Op die manier bak die korsie nie so bruin en hard nie.
Bestanddele:
450ml water
2 eetlepel olie
1 groot eier
450g meel van jou keuse (Gebruik net rogmeel of maak ‘n mengsel van hawermout, rogmeel, growwe rogmeel en mielieblom
7g kits gis (vir broodmasjiene)
1 teelepel sout
1/2 teelepel koeksoda
2 eetlepels suiker
Opsionele ekstras (ek maak dit dikwels sonder enige van die by):
– 2 opgehoopte eetlepels linsaad (flaxseed). Voeg dit net so by of week dit in ‘n bietjie water vir ten minste ‘n uur (of sommer oornag) en voeg dit by die brood (meer van die olie kom uit as jy dit eers week)
– 2 opgehoopte eetlepels sade mengsel (omega mix of iets soortgelyks)
– Voeg 2 opgehoopte eetlepels anys saad by. Dit gee dit ‘n heerlike anys geur, sonder dat dit ‘n sterk anys snaak het.
– Voeg 2 eetlepels kakao by vir ‘n donkerder brood. (Ek hou daarvan om dan ook 1 teelepel kaneel en 1 teelepel gemmer by te sit. Heerlik as jy ietsie soets wil op smeer of sommer net suiker op ‘n sny wil strooi – een van my kinders se gunstelinge)
Verhit jou oond tot 50 grade
Voeg al die nat bestanddele bymekaar, voeg droë bestanddele by en meng baie goed. Gooi die deeg in ‘n silikon broodpan en bedek met bakpapier of foelie.
Sit die oond af en laat die brood vir 30 minute in die oond reis.
Haal die brood uit en verhit jou oond tot 240 grade, terwyl die brood verder buite reis.
Bak vir 30 minute by 240 grade.
Bak dan vir ‘n verdere 15 minute by 180 grade.
Hoop julle geniet die vars gebakte brood net so baie soos ons.
Baie baie dankie. Ons koop dit ten duurste hier in Vereeniging. Ek het al hier rond navraag gedoen maar kry nie ‘n winkel wat rogbrood meel verkoop nie 🙁
Groete
C
Sent via my BlackBerry from Vodacom – let your email find you!
Ek gebruik Eureka Mills se rogmeel wat ek by ons superspar en Checkers koop. Ek sien op hul webwerf (http://www.eurekamills.co.za/distributors.php) dat dit in Vereeniging by Euro Superspar verkoop word. Hoop dit is nog so. Anders sien ek hulle sê: “If your local Spar is not listed here, please ask them to order it from Key 4 Health (011 708 1433) – It makes it easier if the customer asks for the product.”
Hoop dit help jou. Dis soveel goedkoper om self te bak en smaak ‘n ton beter as die ou brood wat mens in die winkel kan koop.
Gebruik jy mieilieblom soos in Maizena of meelblom en hoeveel omtrent? En gebruik jy kitsgis as jy in die oond bak ook?
Renate, Ek gebruik Maizena (wel eintlik Trumps se Cornflour wat dieselfde is maar net goedkoper). Ek gebruik so 30-50g en die res van die 450g meel is dan rog of hawermout en rog gemeng.
Ja, ek gebruik kitsgis. Anchor het 7g pakkies vir broodmasjiene, maar jy kan ook die 10g pakkies koop en dan net 7g daarvan gebruik (ek maak gewoonlik die brood dubbel aan en gebruik dan of 2 7g pakkies en 1 en ‘n 1/2 10g pakkies)
Laat weet hoe jou brood uitgekom het 🙂
Dankie vir die interessante idees! Ek hou ook nie van kitsgis nie, bak al jare met aartappelsuurdeeg gewone brood. Het nou met rogmeel begin, eerste brode nie oneetbaar nie maar nog nie so goed gerys nie. Voor ek weer probeer, het iemand dalk meer wenke oor aartappelsuurdeeg by rogmeel. Dankie, Hantie