0

Bybelklub Julie uitdaging

30 July 2014
Share

Die Bybelklub Julie uitdaging het op net die regte tyd vir ons gekom. Met ‘n baba in die huis is my eie kreatiwiteit taamlik laag. En toe kom die uitdaging om elke dag iets lekker saam met die kinders aan te pak. Die beste was dat dit meestal super maklik was om vinnig aanmekaar te slaan. Nee, korreksie, die beste was al die laggies en glimlagge wat die aktiwiteite ontlok het.

Ek moet eerlik wees dat ons nie altyd so presies by die letter van die uitdagings gehou het nie. Soms het dae om geruil geraak of het iets langer geneem as een dag. Ons het immers soveel pret gehad om skaduwee-poppe te maak dat dit 2 dae geneem het om almal te knip en plak voor ons hulle kon gebruik. Dit was lekker om te kies watter diere ons gaan maak, toe die maak daarvan en natuurlik die groot hoogtepunt om stories met dit te maak. Ek is maar onkreatief, maar hulle het vinnig-vinnig self stories uitgedink. Ek weet ons gaan nog baie met die skaduwee-poppe speel. Selfs ons 9 maande oue pop het van die in-die-donker aktiwiteit gehou. Dit was maar moeilik om in die donker mooi foto’s te kry, maar ek dink julle sal ‘n idee kry van die pret uit die foto’s.

20144

Nog ‘n treffer was die briefies in die posbus. Ons knaap het my verseker dat hy dadelik geweet het die briefie kom van my af, maar dat hy glad nie verwag het om dit te kry nie. Die 2 rakkers was so mal oor hulle briefies dat hulle mekaar s’n ook wou lees. Dit is iets wat ek weer van tyd tot tyd sal doen. Ek wil ook vir manlief, die ouma’s en tannies vra om vir hul elk ‘n ietsie in die pos te gooi. Deesdae is slakke-pos nie meer so algemeen nie, maar dit bly darem ‘n groot lekkerte as mens wel die dag iets ontvang (as dit natuurlik nie nog gemorspos of ‘n rekening is nie).

Die uitdaging wat egter tot die meeste gelag gelei het was die simpel-kedimpel kompetisie. Die tydsberekening was onverbeterlik. Dit was juis die dag wat ons kar se battery ons in die steek gelaat het en hul baie teleurgesteld was, omdat hul nie kon gimnastiek te gaan nie. Ons het te heerlik gelag vir al die simpel-kedimpel dinge wat ons elk gedoen het. Ons oudste wou dadelik weet of daar medaljes gaan wees. Dit is nog die resultaat van ons eie mini gesinspele 2 jaar terug tydens die olimpiesespele, waar hulle sommer elk ‘n klomp “medaljies” los geslaan het – Met die Common wealth games wat nou aan is is dat dalk ‘n goeie tyd vir ons om ons volgende gesinsele te hou.

Op onderste-bo-agterste-voor dag het ek met agterste-voor klere uit die kamer gekom na ontbyt. Ek het gedink hulle sal dit dadelik agter kom, maar dit het ‘n tydjie geneem. Toe hulle dit egter raak sien, moes hul net self gaan oor aantrek het vir die dag. Selfs die baba moes saam doen. Ons het vir ons gebruiklike teetyd pappa-pap (dws maizina pap/vlae wat Pappa soms vir ontbyt of nagereg maak) met strooitjies onder die toonbank gedrink. Mens kan nie dink hoe baie hulle dit geniet om iets net heeltemal anders as altyd te doen nie.

20145

Dit was vir my ook ongelooflik hoe van die uitdagings net vir hul self gesorg het. So het manlief die aand voor die bederfie dag by Spar gestop vir ‘n paar goedjies en vir elkeen met ‘n lekkertjie huis toe gekom vir die volgende dag. Dis iets wat nie sommer gebeur nie, want lekkergoed word gewoonlik vir naweke gebêre. Of tradisie Vrydae wat prefek saam geval het met ons nuwe tradisie om Vrydae aande gemorskos te maak. Vrydae aande maak ek en die kinders dus iets soos “Vis en tjips”, pizza, “spareribs” – enige iets wat maklik is om aan mekaar te slaan en waarmee hulle kan help. Vir ons is die aande ‘n reuse bederf, want met allergie in die huis is wegneemetes net nie iets wat gebeur nie.

20146

Ek sou graag met julle meer foto’s wou deel, maar ek het my kamera deesdae verruil vir ‘n baba op die heup. Ek weet egter dat ons nie sommer sal vergeet van al die pret wat ons die maand gehad het nie.