Ons het lank terug die geen-TV-in-die-week reël in gebring en dit was een van ons beste besluite ooit. Die laaste tyd het dit egter bietjie uitgerafel. Dit was immers baie maklik om saam met Pappa voor die TV te gaan sit, terwyl ek saans die baba se nagroetine doen.
Ongelukkig het ek ook baie vinnig die vrugte daarvan begin pluk. Dit is eintlik verbysterend hoe vinnig swak gedrag afsmeer. Miskien gebeur dit juis so maklik, omdat die kinders so min groot invloede van buite het. Of miskien sien ons dit maklik raak, juis omdat daar so min ander invloede is. Dis nie asof hulle aaklige goed gekyk het nie, dis net, kom ons wees eerlik, dat daar so min goeie rolmodelle op TV is!
Die ou geen-TV-in-die-week reël is egter weer in volle werking. Hmm, wel dit was tot ons vandag begin het om die Common wealth games gimnastiek te kyk. Dit is darem net elke 2de jaar dat daar gimnastiek op TV is en ons moet dit benut. Hulle kyk ook net kort rukkies, want dan is hulle uit gekyk. Ek moet wel kort-kort hoor, mamma die oom/tannie het dit of dat gedoen. My 2 gimnassies is mal daaroor om te kyk waarna toe hulle werk.
Soos altyd as die TV waai word hier tonne lekkerder gespeel en neem die verbeeldings behoorlik oor. Dis nie altyd net positief nie. Dit veroorsaak ook ‘n paar lekker gevegte. So besluit ons pop die ander dag dat dit reën in die huis en sy en babasus sit onder haar sambreel. Ouboet is baie ontsteld, want hy word nat en wil ook onder die sambreel sit. Sy sê dis nie nodig nie, want hy sit onder ‘n dak en kan nie nat reën nie. So volg ‘n hele paar minute se argumente oor of daar ‘n dak is of nie en wie nat reën al dan nie.
Nog een van die onderonsies is toe hul oorlewing buite gaan speel oor een teetyd. Hulle besluit die dag hulle gaan eerder droë vrugte pak en gaan oorleef in die tuin. Na ‘n ruk is hulle egter in mekaar se hare. Hulle het besluit dat hulle moet oefen. Sus het besluit die klimraam is perfek daarvoor. Boeta voel egter hulle doen oorlewing en daar is nie ‘n klimraam nie, net bome om te klim. Sus bly by haar punt dat die klimraam daar staan en hy by syne dat die NIE daar is NIE.
Hierdie is die tipe onderonsies wat ‘n ma eerder uit bly, want hoe redeneer jy immers nou met ‘n kind oor sy verbeeldings wêreld.